Covid-19: Melbourne weer in afsondering geplaas

Argieffoto (Foto: Fernando Zhiminaicela/Pixabay)

Sowat 5 miljoen mense in Melbourne is van Donderdagaand om middernag weer in afsondering en beamptes blameer Australië se voeteslepery met die inentingsveldtog en gebrekkige kwarantynfasiliteite ná nóg ʼn uitbreking in die land se tweede grootste stad.

Sowat 26 gevalle word met die “hoogs aansteeklike” Indiese variant van Covid-19 verbind en owerhede het die algehele afsondering vir Melbourne en omliggende Victoriastaat ingestel.

Dit is die vierde keer dat Melbourne in afsondering geplaas word sedert die pandemie begin het, byna vier maande ná streng beperkings verlede jaar.

Die uitbreking het vermoedelik begin met ʼn reisiger wat van oorsee na Australië teruggekeer het, en die virus opgedoen het tydens ʼn verpligte 14 dae kwarantyn in ʼn hotel in Adelaide. Hy het daarna na Melbourne gereis waar hy positief getoets het vir die virus.

Die jongste uitbreking het kritiek uitgelok oor gebrekkige kwarantynfasiliteite en ʼn nasionale inentingsveldtog wat, volgens die waarnemende premier James Merlino, “nie is waar dit moet wees nie”. “As meer mense ingeënt was, het ons dalk ander omstandighede gehad as vandag. Dit is ongelukkig nie die geval nie,” het hy gesê en die skuld vierkantig op die konserwatiewe federale regering geplaas.

Sommige plaaslike inwoners het Donderdag gejaag om die inenting te kry toe die staat vir die eerste keer vir mense tussen 40 en 49 jaar oud massa-inentingsfasiliteite oopgemaak het.

Die virus het al 17 keer in ses maande uit tydelike hotel-kwarantynfasiliteite uitgelek, volgens die opposisie Arbeidersparty. “As ons ʼn alternatief gehad het vir hotelkwarantyn vir hierdie betrokke variant, was ons vandag nie hier nie,” het Merlino bygevoeg.

Nog voor die afsonderingsperiode aangekondig is, het duisende mense in Melbourne reeds self geïsoleer ná gevalle opgemerk is by talle plekke insluitend twee afsonderlike Aussie Rules-voetbal en ʼn rits nagklubs.

Inwoners mag die huis slegs verlaat vir noodsaaklike redes, insluitend om ingeënt te word. Skole, kroeë en restaurante sluit weer, byeenkomste word opgeskort en die dra van gesigmaskers is verpligtend. Professionele sportbyeenkomste kan voortgaan sonder toeskouers en mense wat alleen bly, mag ʼn “enkelborrel” vorm met ʼn ander persoon.

Groot lugdienste het ook vlugte na Melbourne opgeskort.

Australiërs het die afgelope paar maande redelik min beperkings gehad ná die land suksesvol die verspreiding van die koronavirus kon hokslaan. Uitbrekings in Taiwan en Japan het egter benadruk hoe aanvanklike sukses ongedaan gemaak kan word sonder grootskaalse inentings. Australië het tot dusver 3,7 miljoen entstofdosisse toegedien in ʼn bevolking van 25 miljoen. Slegs ʼn breukdeel van die inwoners is ten volle ingeënt.

Eerste minister Scott Morrison het kritiek van die hand gewys en gesê “geen stelsel is sonder gebreke nie” en verwys na Australië se suksesvolle reaksie op die pandemie in vergelyking met ander lande. “Ons sal alles in ons vermoë doen om die lewens en lewensbestaan van Australiërs te beskerm. Ons het reeds 910 mense aan Covid-19 afgestaan. Dit is egter nie naastenby wat ons in ander lande sien nie,” het hy gesê.

Hy maan inwoners, wat vir die inentings in aanmerking kom, om ingeënt te word.

Australië het tot dusver 30 000 Covid-19-gevalle aangemeld – die grootste deel daarvan in Victoria tydens verlede jaar se tweede golf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Ek dog dat Australië eers teen middel 2022 buitelandse besoekers gaan toelaat?

Rian ·

Dit was terugkerende Australiërs wat in Indië gestrand was wat die virus versprei het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.