Covid-19: Namibië het spoor verloor van persone wat moontlik besmet is

Kalumbi Shangula, minister van gesondheid in Namibië (Foto: Facebook/Namibian Presidency)

Die regering in Namibië kan nie ʼn groot groep mense opspoor wat in kontak was met besmette Covid-19-pasiënte nie, het die Namibiese media Donderdag berig.

Volgens ʼn berig in die Namibian Sun het die regering toegegee dat hy nie weet waar die persone – moontlik honderde mense – is wat in kontak was met drie pasiënte wat positief getoets het vir die koronavirus nie.

Die drie persone het glo self-isolasie-riglyne verbreek.

Kalumbi Shangula, minister van gesondheid in Namibië, het gesê die groep van drie sluit ook die 16de bevestigde geval in, wat steeds bly werk het terwyl hy op sy uitslae gewag het en met meer as 50 mense in kontak gekom het. Die man se reisgeskiedenis is ook teenstrydig en die regering kan nie bepaal of dit ʼn plaaslike oordrag of ingevoerde oordrag was nie.

Die 15de bevestigde geval in Namibië het ook die self-isolasie-riglyne verbreek toe hy vir sy uitslae gewag het, ondanks die feit dat hy aangeraai is om nie van openbare vervoer gebruik te maak wanneer hy gesondheidsorg moet ontvang nie. Die persoon het glo met ʼn taxi na die Robert Mugabe-kliniek gery sodat hy op 7 April opgeneem kon word vir isolasie.

Volgens die koerant het die minister ook bevestig hulle het nie ʼn idee wat met ongeveer 160 persone gebeur het wat vroeër vandeesmaand by Hosea Kutako- internasionale lughawe geland het nie, ook nie diegene wat Walvisbaai betree en huis toe gestuur is om te self-isoleer nie.

Die Republikein het berig 85 persone het op 26 Maart by Hosea Kutako-lughawe aangekom en 35 persone by Walvisbaai-lughawe. Hulle is in die aankomssaal gehou en is later toegelaat om te vertrek sonder dat hulle vir die koronavirus getoets is.

Namibië het 16 bevestigde gevalle van Covid-19 en drie persone wat herstel het.

Meer as 2 miljoen gevalle is wêreldwyd aangemeld met meer as 134 000 sterftes en meer as 500 000 persone wat herstel het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Estelle ·

Moet maar liewer nie daai syfer van 16 gevalle glo nie. Ons regering doen nie aktief toetse as voorkomende of bevestigende maatreel nie. Ons het 2.5miljoen inwoners ens minder as 400 toetse is gedoen.
Gelukkig besef die meerderheid van ons dis in ons eie belang om eerder tuis te bly, want op ons regering se kennis en wil om die ding stop te sit kan ons nie reken nie.
Ons groot voordeel is egter dat ons president, die kabinet, geloofsleiers en publiek, álmal, God gereeld nader vir genade en vergifnis. Hy is en bly maar in beheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.