Covid-19: Namibiese hospitale ook vol

(Argieffoto)

Namibië gaan tans net soos Suid-Afrika gebuk onder ʼn derde vlaag van Covid-19-infeksies. Meer as 6 000 nuwe gevalle van die virus is die afgelope week in dié buurland aangemeld.

Meer as 80 verwante sterftes is sedert verlede Maandag in Namibië aangemeld terwyl die land se hospitaalpersoneel in dié stadium oorweldig word deur ʼn toename in hospitaalopnames.

Die Namibiese departement van gesondheid het Sondag in sy jongste verklaring gesê nuwe gevalle word in al 14 van die land streke aangemeld, hoewel die meeste in die Khomas-streek aangemeld word.

Dit sluit die hoofstad, Windhoek, in.

Namibië het teen Sondagaand meer as 9 500 aktiewe gevalle landwyd gehad nadat nog 884 mense positief vir Covid-19 getoets het.

Die land – met sy nagenoeg 2,6 miljoen inwoners – het tans 374 pasiënte wat in hospitale vir Covid-19 behandel word. Altesame 61 van dié pasiënte word in die waakeenheid van ’n hospitaal behandel, terwyl 25 in hoësorg-eenhede opgeneem is.

Die Khomas-streek het tans die meeste hospitaliserings (182), gevolg deur Erongo wat onder meer Swakopmund en Walvisbaai insluit.

The Namibian berig ’n toename in hospitaalopnames het staatshospitale genoop om pasiënte na geïsoleerde dele van fasiliteite te verskuif om te verseker dat elke pasiënt mediese sorg ontvang.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, Kalumbi Shangula, het aan dié koerant gesê die situasie is tans “erg” en die regering hersien sy afsonderingsregulasies.

Ben Nangombe, uitvoerende direkteur van Namibië se departement van gesondheid en maatskaplike dienste, het op sy beurt gesê die land ondervind al hoe meer opnames terwyl hospitaalpersoneel die virus opdoen en huis toe gestuur word.

Altesaam 65 089 mense in Namibië het sedert die uitbreking van Covid-19 verlede jaar positief getoets vir die virus. Die land se dodetal staan tans op 995. Tot dusver het meer as 54 500 pasiënte reeds van die siekte herstel.

Inenting

Luidens die nasionale departement van gesondheid se jongste verklaring het byna 88 000 Namibiërs reeds hul eerste dosis van die Covid-19-entstof ontvang. Altesame 14 686 het reeds ʼn tweede dosis ontvang.

Namibiërs word met Sinopharm en AstraZeneca teen Covid-19 ingeënt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.