Covid-19: Nuwe hibriede variant in Viëtnam ontdek

‘n Covid-19-toetssentrum in Hanoi. (Foto: Manan VATSYAYANA / AFP)

Viëtnam het ’n nuwe variant van die koronavirus ontdek wat as ’n kombinasie van die Indiese en Britse stamme beskryf word en vinnig deur die lug versprei.

“Ons het ’n nuwe hibriede variant van die Indiese en die Britse stam ontdek,” het die Viëtnamese minister van gesondheid, Nguyen Thanh Long, Saterdag tydens ’n nasionale vergadering gesê.

“Die kenmerk van hierdie stam is dat dit vinnig deur die lug versprei. Die konsentrasie van virus in die keelvloeistof neem vinnig toe en versprei baie sterk na die omliggende omgewing.”

Die minister het nie gespesifiseer hoeveel bevestigde gevalle reeds met die nuwe variant verband hou nie, maar gesê Viëtnam sal binnekort die ontdekking op die wêreldkaart van genetiese stamme bekend maak.

Die sentrale instituut vir higiëne en epidemiologie in Viëtnam het Saterdag in ’n verklaring gesê wetenskaplikes het geenmutasies in vier uit 32 pasiëntmonsters opgespoor.

Volgens die ministerie van gesondheid was daar sewe bekende koronavirus-variante in Viëtnam voor Long se aankondiging.

Dié land spook tans om uitbrekings van Covid-19-gevalle in meer as die helfte van sy gebied te hanteer. Dit sluit groot stede soos Hanoi en Ho Chi Minh-stad in.

Dit volg nadat die land vroeër geloof is vir sy reaksie op die pandemie nadat hy massa-kwarantyne en streng kontakopsporing ingestel het om infeksiesyfers relatief laag te hou.

Meer as 6 800 gevalle en 47 sterftes is tot op hede in Viëtnam aangemeld. Die meeste van hierdie gevalle is sedert April aangemeld.

Die onlangse uitbrekings het kommer onder die publiek en die regering laat ontstaan en strenger afsonderingsregulasies is ingestel.

Kafees, restaurante, haarsalonne en masseersalonne, asook toerisme- en godsdiensplekke is in verskillende dele van Viëtnam gesluit.

Viëtnam het ’n bevolking van 97 miljoen mense. ’n Bietjie meer as ’n miljoen landsburgers is reeds ingeënt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

Paniek! Paranoia! Wat nog. Ironies hooe kerke ALTYD eerste gesluit word! Dat die regerings so bang is vir die woord van God en Christene!!! Dis hoekom dit so gaan in die wêreld!!!

Margaret ·

Ek sien nou hulle sê dit ‘versprei baie vinnig deur die LUG”… Dit is nog altyd wat die kenners vir ons sê, NIE gebeur nie.

marius ·

Wat se Coetzee daarvan ? Gaan haar entstof mense beskerm ? Vra gaar reguit !

Eric ·

En hier gaan die ‘ scaremongering’ al weer. Nou kan almal weer val vir die volgende spul vals nuus. Daar word elke jaar ook nuwe algemene verkoue en griepvirusse ontdek asook nuwe malariavirusse , so wat daarvan ?

Maggies ·

Sal jy nog steeds die berigte “scare mongering” noem wanneer jy albei jou ouers agv. Covid 19 begrawe? Covid 19 én sy variante kan nie met gewone griep vergelyk word nie.

Timmy ·

Jy het definitief nie iemand verloor agv hierdie virus nie. Ek bid jy hoef nooit hierdie hartseer deur te gaan nie.

annie ·

Aanvanklik is tonele in Sjina getoon waar ontsmettingsmiddels orals in geboue en die buitelug gespuit is, maar nie eintlik deur ander lande nagevolg is nie. Het Sjina geweet dat die virus so kan toeneem en voorsorg getref. Vragmotors, spesiaal toegerus vir massa-ontsmetting, het die omgewing in ‘n misreèn gedompel en mense was onder erge kwarantyn. Weet hulle iets wat ons liefs nie wil weet nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.