Covid-19: Pfizer, BioNTech se entstof werk nuwe variante teen

(Foto: Justin Tallis/AFP)

ʼn Voorlopige studie toon dat die farmaseutiese maatskappy Pfizer en sy Duitse vennoot BioNTech se entstof ook die nuwe variante van die koronavirus wat onlangs in Brittanje en Suid-Afrika ontdek is, teenwerk.

BioNTech het Vrydag gesê toetse toon dat “teenliggaampies van mense wat Pfizer-BioNTech se Covid-19-entstof ontvang het, SARS-CoV-2 doeltreffend neutraliseer met ʼn sleutelmutasie wat ook in twee sterk oordraagbare variante voorkom”.

Die variant wat einde verlede jaar in die suidooste van Brittanje kop uitgesteek ​​het, blyk meer aansteeklik as gewone, bekende variante van die koronavirus te wees.

Vrese het ontstaan dat die entstof nie die nuwe variante sou teenwerk nie aangesien die mutasie in die Britse variant en die Suid-Afrikaanse variant die stekelpunt-proteïen van die virus direk beïnvloed.

BioNTech sê sy en Pfizer se entstof is afhanklik van die liggaam se produksie van ʼn bepaalde deel van die virus – die stekelpunt-proteïen – wat die immuunstelsel dan leer “doodmaak”.

BioNTech sê verder navorsing deur Pfizer en die Universiteit van Texas se mediese departement “dui daarop dat die sleutel-N501Y-mutasie, wat in die Britse en Suid-Afrikaanse variante opgemerk word, nie weerstand skep teen die immuunrespons wat deur die Pfizer-BioNTech-entstof veroorsaak word nie”.

Skrywers van die studie het egter gesê dat die bevindinge beperk is aangesien die gemuteerde variant wat getoets is, nie die volledige stel stekelmutasies insluit wat in die vinnig verspreidende variante in die Verenigde Koninkryk of Suid-Afrika voorkom nie.

Kenners is nietemin versigtig optimisties oor die navorsing.

“Dit is goeie nuus, veral omdat dit nie slegte nuus is nie,” het Stephen Evans, professor in farmako-epidemiologie aan die London School of Hygiene and Tropical Medicine, gesê.

“Indien die teenoorgestelde resultaat gevind is, naamlik dat die entstof blykbaar nie doeltreffend is teen die variasie van die virus nie, sou dit baie kommerwekkend gewees het.”

Eleanor Riley, professor in immunologie en aansteeklike siektes aan die Universiteit van Edinburgh, het gesê daar is rede tot optimisme dat mRNA-entstowwe doeltreffend teen talle gemuteerde variante kan wees.

“Daar sal ander nuwe mutasies wees en ons sal die situasie noukeurig moet monitor deur hierdie soort studie oor nuwe variante te herhaal namate dit voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.