Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het ʼn nuwe rekord aangeteken in die getal Covid-19-gevalle wat op een dag wêreldwyd aangemeld is.
Luidens data wat Sondag bekend gemaak is, het die WGO altesaam 307 930 nuwe bevestigde gevalle wêreldwyd binne 24 uur aangeteken.
Dit is ongeveer 1 000 gevalle meer as die laaste hoogste daaglikse syfer ʼn week tevore.
Byna 29 miljoen pasiënte in 216 lande het reeds positief getoets vir die koronavirus sedert die uitbreking sowat nege maande gelede in Wuhan in China.
Tog verwag kenners dat die werklike syfer veel hoër is as die amptelike syfer.
Teen Sondag het 917 417 mense wêreldwyd reeds weens die koronavirus omgekom. Ongeveer 5 500 sterftes is Sondag binne 24 uur aangemeld.
Luidens die WGO se data het die getal sterftes per dag onlangs betreklik konstant gebly.
Die VSA (6 386 832), Indië (4 754 356) en Brasilië (4 282 164) gaan tans veral gebuk onder die Covid-19-pandemie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Die wat van covid moet sterf, sal sterf, al is dit ekself, ons kan nie die jeug vasmaak om ons oueres te beskerm nie.
Ek voorspel dat Suid-Afrika se probleme nou eers werklik gaan begin. Verlede week daag my huiswerker sonder ‘n masker op. “Die virus is mos weg”, sê sy vir my man. En wraggies: vanoggend, toe ek by die werk aankom, loop al wat ‘n werker is, sonder ‘n masker rond. By navraag word daar vir my gesê: “Corona is gone. Ramaphosa will speak tomorrow.” Bid jou dit aan!