Covid-19-samevatting: Afsondering in Namibië, Uganda verleng

President Hage Geingob (Foto: ANA)

Namibië se algehele landwye afsondering word verleng in ’n poging om die verspreiding van die nuwe koronavirus in dié land hok te slaan.

Hage Geingob, president van Namibië, het Dinsdagmiddag aangekondig dat die land se afsondering met 18 dae verleng word. Die verlenging skop Vrydag om middernag in en sal na verwagting 4 Mei om middernag gelig word.

Namibië het tans 16 bevestigde gevalle van Covid-19. Die land het nog geen sterftes aangemeld nie, met drie pasiënte wat reeds in dié land van die virus herstel het.

Pres. Yoweri Museveni

Uganda

Uganda het intussen ook sy algehele landwye afsondering verleng.

Die Ugandese president Yoweri Museveni het Dinsdag aangekondig dat dié land se afsondering met 21 dae verleng word. Uganda se afsondering sal na verwagting op 5 Mei opgehef word.

Museveni het erken dat die land nie voorbereid is op die Covid-19-pandemie nie. Altesaam 54 mense in Uganda het reeds positief vir die virus getoets. Die land het nog geen sterftes aangemeld nie.

Altesaam 5 664 mense is reeds in Uganda vir Covid-19 getoets van wie die meerderheid onlangs vanuit die buiteland teruggekeer het.

‘n Vrou sluit Dinsdag ‘n winkel oop in Wene, Oostenryk. (Foto: Ronald Zak, AP)

Winkels heropen in dele van Europa

Duisende winkels het Dinsdag in Oostenryk heropen nadat die land sy regulasies wat die algehele landwye afsondering betref ná sowat ’n maand verslap het. Streng reëls rakende sosiale afstand word egter steeds toegepas.

Altesaam 14 197 gevalle is in dié land aangemeld. Byna 400 pasiënte het reeds in Oostenryk weens die nuwe koronavirus omgekom.

In Italië is ʼn beperkte aantal winkels en ondernemings toegelaat om te heropen. Streng maatreëls geld egter steeds in Lombardye en ander streke in die noorde van dié land wat erg onder die virus gebuk gaan. Meer as 21 000 mense het reeds in dié land weens Covid-19 gesterf.

Altesaam 162 488 gevalle van die nuwe koronavirus is tot op hede in Italië aangemeld. Altesaam 37 130 mense het reeds van die virus herstel.

‘n Vrou was Dinsdag ‘n winkelvenster in Wene, Oostenryk. (Foto: Ronald Zak, AP)

Die land is reeds sowat vyf weke gelede onder algehele landwye afsondering geplaas. Winkels wat skryfbehoeftes en klere vir kinders verkoop, kan heropen hoewel streng higiëne toegepas moet word.

Denemarke het intussen ook aangedui dat hy van plan is om die regulasies rakende sy landwye afsondering vroeër as verwag te verslap. Byna 6 500 gevalle van Covid-19 en 299 sterftes is in dié land aangemeld.

Volgens die wêreldbarometer Worldometer se statistieke rakende die nuwe koronavirus is 1 955 778 gevalle van Covid-19 oor die hele wêreld aangemeld. Altesaam 123 450 pasiënte het reeds weens die virus omgekom en 462 871 het reeds herstel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cecil ·

MM u 2de parragraaf moet lees na verwagting op 4 Mei. Alle besighede kan weer begin op 5 Mei.

Megan Swart ·

Dagsê Cecil
Dit was inderdaad ‘n fout. Ons vra om verskoning vir die flater. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.