Covid-19-samevatting: Brasilië meld meeste nuwe gevalle nóg aan

Pasiënte word Maandag vir Covid-19 in ‘n veldhospitaal in Manaus in Brasilië behandel. (Foto: Felipe Dana, AP)

Brasilië het vandeesweek sy hoogste aantal nuwe daaglikse Covid-19-gevalle en sterftes nóg aangemeld sedert die uitbreek van die nuwe koronavirus in dié land.

Altesaam 17 408 bevestigde gevalle van Covid-19 en 1 179 verwante sterftes is tussen Maandag en Dinsdag in dié land aangemeld. Brasilië het nou byna 272 000 gevalle van die nuwe koronavirus met die land se dodetal wat op 17 983 staan.

Dié land, wat die episentrum van die Covid-19-pandemie in Latyns-Amerika is, het die vierde hoogste aantal infeksies ter wêreld, ná Spanje, Rusland en die VSA.

Spanje het tot op hede 278 803 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus aangemeld, met byna 28 000 verwante sterftes. Rusland het tans die naasmeeste gevalle ter wêreld. Altesaam 308 705 bevestigde gevalle van Covid-19 is tot op hede in dié land aangemeld, van wie 2 972 pasiënte weens die virus gesterf het.

Aantal gevalle in VSA ʼn ‘erewapen’

President Donald Trump praat Dinsdag gedurende sy kabinetsvergadering in Washington. (Foto: Evan Vucci,AP)

Die Amerikaanse pres. Donald Trump het intussen gesê hy beskou dit as ʼn erewapen dat die VSA van die meeste Covid-19-gevalle ter wêreld het. Volgens hom beteken dit dat dié land se toetsvermoë baie beter is as dié van ander lande.

Die VSA het tot op hede die meeste (1 571 131) bevestigde gevalle van Covid-19 aangemeld, van wie 93 558 pasiënte reeds weens die virus gesterf het.

“Jy weet dat wanneer jy sê ons neem die voortou met gevalle, dit is omdat ons meer toetse doen as enigiemand anders,” het Trump vandeesweek gedurende sy eerste kabinetsvergadering sedert die uitbreek van Covid-19 aan verslaggewers gesê.

“So, ek beskou dit nie noodwendig as ʼn slegte ding as ons baie gevalle het nie. Ek beskou dit in sekere opsig as ʼn goeie ding, want dit beteken dat ons toetsing baie beter is.

“So, ek beskou dit as ʼn erewapen. Regtig. Dit is ʼn erewapen,” het Trump gesê.

Die VSA het die afgelope week tussen 300 000 en 400 000 Covid-19-toetse daagliks uitgevoer.

Ashish Jha, direkteur van die Harvard Global Health Institute, meen egter die land behoort meer as 900 000 toetse per dag uit te voer om te verseker dat sy algehele landwye afsondering veilig opgehef kan word. “Ons doen ongeveer ʼn derde daarvan,” het Jha gesê.

Spanje se noodtoestand dalk wéér verleng

Pedro Sanchez, eerste minister van Spanje. (Foto: Ballesteros via AP)

Pedro Sanchez, eerste minister van Spanje, het vandeesweek onder skoot gekom nadat hy die parlement gevra het om die land se noodtoestand met nog twee weke te verleng.

Die Spaanse regering wil dus nou die land se noodtoestand vir die vyfde keer verleng tot 7 Junie, wanneer dit Saterdag verval.

Bronne: CNN, BBC, Worldometer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Human

Wat het dan van diegene geword wat Don Tantrum Trump so bewonder ek sien geen kommentaar oor sy algehele gebrek aan rasionele gesprekvoering oor wat aan die gebeur is in die VSA. Wat ‘n skande dat so ‘n onbevoegde idioot besluite moet neem oor die VSA en sy mense. Hy is totaal en al onbevoeg.

Ian

Volgens mediese kenners wat vir teenliggaampies getoets het (dit is nou mense wat van die siekte herstel het) het baie mense die siekte so lig gehad dat hulle self nie eers bewus was dat hulle covid-19 gehad het nie. Indien daardie syfers in berekening gebring word is die sterfte koers ongeveer 50 keer laer as die gepubliseerde getal. Die nuusmedia steek hierdie inligting weg want dit pas nie in by hulle paniek skeppende agendas nie. Verdoesel ook die feit dat (volgens baie dokters wat die siekte elke dag veg) hidroxychloriquin in kombinasie met sink die enigste middels blyk te wees… Lees meer »