Covid-19-samevatting: Britse premier na waakeenheid geskuif

Boris Johnson. Foto: (Pippa Fowles/10 Downing Street via AP)

Die Britse eerste minister, Boris Johnson, is na die waakeenheid van ʼn Londense hospitaal geskuif nadat sy toestand Maandag verswak het.

Johnson is Sondag in die St. Thomas-hospitaal opgeneem, 10 dae nadat hy positief vir Covid-19 getoets het. Die 55-jarige Johnson is volgens berigte by sy volle positiewe en nog nie aan ʼn ventilator gekoppel nie.

Brittanje het nie ʼn amptelike pos van adjunk- eerste minister nie, maar Dominic Raab, minister van buitelandse sake, is deur Johnson gevra om waar te neem.

Johnson was in kwarantyn in die premierswoning, 10 Downing Street, sedert hy positief vir die virus getoets het. Sy verloofde, Carrie Symonds, herstel tans van Covid-19-simptome. Sy is swanger.

Volgens Buckingham-paleis word koningin Elizabeth II op die hoogte gehou van Johnson se toestand. Meer as 51 000 mense is reeds in Brittanje positief vir Covid-19 getoets en meer as 5 300 mense is dood.

Dr. Anthony Fauci. Foto: (AP Photo/Alex Brandon)

In Amerika het pres. Donald Trump gesê dit blyk dat hul pogings teen Covid-19 suksesvol is en dat die verspreiding van die virus vertraag word. Dr. Anthony Fauci, die land se voorste spesialis vir aansteeklike siektes, is versigtig optimisties en het gesê “dit was ons in New York gedoen het, het gewerk”.

Die goewerneur van New York, Andrew Cuomo, het gesê daar is tekens dat die uitbreking in New York op of naby die hoogtepunt is. Die VSA het meer as 365 000 bevestigde gevalle van Covid-19 en amper 11 000 sterftes.

Frankryk het intussen sy hoogste 24-uursterftesyfer van 833 aangeteken sedert die epidemie begin het. In Japan word ʼn noodtoestand in Tokio en ander gebiede oorweeg weens ʼn stygende infeksiekoers.

In China, waar die uitbreking begin het, is daar geen nuwe sterftes in die afgelope 24 uur aangekondig nie. In Oostenryk en die Tsjeggiese Republiek is daar met besprekings begin oor hoe om sekere beperkinge te verlig met sommige winkels wat volgende week weer sal heropen.

Die foto is in Milan, Italië geneem. Foto: (Claudio Furlan/LaPresse via AP)

In Italië is die kleinste styging in nuwe gevalle in 24 uur vir die afgelope drie weke aangeteken. Minder mense word ook sedertdien in die waakeenhede van hospitale behandel. Meer as 16 00 mense is reeds in Italië dood.

In Spanje het die aantal infeksies en sterftes ook verder afgeneem. Die 637 sterftes in die afgelope 24 uur is die laagste in die afgelope 13 dae en die aantal nuwe infeksies is die laagste in die afgelope twee weke. Meer as 13 000 mense is reeds in Spanje aan Covid-19 dood.

Wêreldwyd is meer as 1,3 miljoen mense met Covid-19 gediagnoseer en meer as 74 000 dood, volgens die gesaghebbende Johns Hopkins-universiteit in die VSA.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Therese ·

Na al die harde werk die afgelope tyd is die Britse Premier se gestel ook seker nie wat dit moet wees nie. Spoedige beterskap toegewens.
Vasbyt, Boris!

Rudolph ·

Baie moeilik om Sjina se getalle te glo. Sal nie verbaas wees as die propaganda masjien dit verkul nie.

Cherokee ·

Moet nie toelaat dat jou glas halfleeg wees terwyl dit eintlik halfvol is, nie.

Rina ·

Sterkte Boris!
Rus nou en ontspan, word gou gesond, jou land, jou verloofde en jou ongebore kind het jou NOU BAIE NODIG!!!!
Vertrou jou verloofde herstel ook vinnig en Dat baba gesond Sal wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.