Covid-19-samevatting: Britse premier ‘sal herstel’

Boris Johnson (Foto: AP)

Die Britse eerste minister, Boris Johnson, is tans stabiel en nie aan ’n ventilator gekoppel nie. Dit volg nadat hy Maandag na die waakeenheid van die St. Thomas-hospitaal oorgeplaas is nadat sy toestand verswak het.

Johnson is Sondag in die St. Thomas-hospitaal opgeneem, tien dae nadat hy positief vir Covid-19 getoets het. Sy swanger verloofde, Carrie Symonds, herstel tans van Covid-19-simptome.

Die 55-jarige Johnson is volgens berigte “opgeruimd”. “Hy is ’n vegter en sal herstel,” het Dominic Raab, Britse minister van buitelandse sake, gesê.

Meer as 55 000 mense het reeds in Brittanje positief vir Covid-19 getoets en meer as 6159 mense is dood.

Die New York-staat in die VSA het Dinsdag sy hoogste sterftesyfer vir een dag aangemeld: Altesaam 731 mense het Dinsdag weens die nuwe koronavirus (Covid-19) omgekom.

731 sterftes is Dinsdag in New York aangemeld (Foto: John Minchillo/AP)

Die goewerneur van New York, Andrew Cuomo, sê ’n totaal van 5 489 sterftes is in dié staat aangemeld. “Die uitbreking in New York mag dalk net sy hoogtepunt bereik het,” meen Cuomo.

Altesaam 12 242 mense is al dood in die VSA.

Wêreldwyd is 1 397 431 gevalle van Covid-19 al aangemeld en 80 945 mense het reeds omgekom.

Covid-19 in Afrika

Malawi het Dinsdag sy eerste Covid-19-sterfte aangemeld.

Volgens Jappie Mhango, Malawi se minister van gesondheid, was die oorledene ’n 51-jarige Indiese vrou wat van Brittanje na Malawi gereis het. Sy het ’n onderliggende mediese toestand gehad.

Agt mense het reeds in dié Afrikaland positief vir die virus getoets.

Intussen het Chitalu Chilufya, minister van gesondheid in Zambië, aangekondig dat die totale herstel van Covid-19-pasiënte nou op vyf staan nadat nog twee pasiënte twee keer negatief getoets het en uit die kwarantynsentrum ontslaan is.

Jappie Mhango, Malawi se minister van gesondheid (Foto: ANA)

Zambië het tans 39 gevalle van die virus.

Chilufya het Maandag tydens ʼn inligtingsessie onthul dat die land vir die vierde agtereenvolgende dag geen nuwe gevalle van Covid-19 aangeteken het nie.

Die Zambiese regering het gesê inwoners van Zambië sal finansieel nie ’n landwye afsondering oorleef nie. Dora Siliya, hoofwoordvoerder van die regering, het gesê die regering is in gesprek met die private sektor om te oorweeg om afstand te doen van huurgeld omdat ondernemings tydens die Covid-19-uitbreking moes sluit.

Die regering het maniere ondersoek om die verliese van eiendomseienaars te beperk.

Ng’andu Magande, voormalige minister van finansies van Zambië, het verlede week gesê Zambië moet so gou moontlik landwye afsondering instel om te voorkom dat mense weens die virus omkom.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

BBC, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.