Covid-19-samevatting: Dié entstof-proewe tydelik gestaak

Argieffoto ter illustrasie (Foto: AP Photo/Ted S. Warren, File)

Johnson & Johnson het sy gevorderde kliniese proewe vir ’n entstof teen Covid-19 tydelik gestaak nadat ’n deelnemer aan dié proewe onverwags siek geword het.

Dié farmaseutiese maatskappy het Maandag in ’n verklaring gesê die pasiënt se toestand sal nou deur sy eie medici asook dié van ’n onafhanklike raad vir veiligheid hersien word voordat die proewe hervat kan word.

Luidens die verklaring word siekte onder deelnemers gedurende enige kliniese studie verwag, veral wanneer ’n groot aantal vrywilligers aan die studie deelneem.

Sowat 60 000 deelnemers oor drie kontinente het teen verlede maand ingeskryf om aan Johnson & Johnson se proewe deel te neem.

Dié maatskappy is tans in die derde fase van ’n driefase-proses van kliniese ontwikkeling, waartydens die entstof aan duisende mense gegee sal word sodat die doeltreffendheid en veiligheid daarvan getoets kan word.

Covid-19-oplewing in Europa

Mense dra gesigmaskers in Rome, Italië, (Foto: AP Photo/Gregorio Borgia)

Die aantal Covid-19-gevalle neem weer toe in Europa. Dié kontinent meld nou meer daaglikse infeksies van die koronavirus aan as die VSA, Brasilië of Indië.

Die Italiaanse regering het te midde van dié oplewing weer sy maatreëls verskerp met ’n verbod op private partytjies en ’n aandklokreël vir kroeë en restaurante ingestel.

Italië het tot begin Oktober daagliks minder as 2 000 gevalle aangemeld. Die aantal daaglikse gevalle het egter die afgelope twee weke tot meer as 5 700 gevalle die afgelope naweek gestyg.

Verligting vir Indië

Indië het op sy beurt Dinsdag 55 342 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld, die laagste daaglikse styging sedert middel Augustus.

Gesondheidswerkers in Indië. (AP Photo/Altaf Qadri)

Dít nadat dié land weke lank die grootste daaglikse toename van infeksies in die wêreld aangemeld het met 1 miljoen gevalle wat binne minder as twee weke aangeteken is.

Indië het naas die VSA die meeste gevalle van Covid-19 ter wêreld met sowat 7,18 miljoen bevestigde gevalle. Dié land se dodetal staan tans op 109 856.

Die koronavirus het sedert die geleidelike opheffing van ’n streng afsondering in Indië vinnig versprei onder dié land se bevolking van sowat 1,3 miljard.

Kenners waarsku egter nou dat die getalle weer kan styg namate meer ekonomiese aktiwiteite, reis en toerisme hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vriendelike Frikkie ·

Hierdie tweede golf is darem lekker teëlaarde vir sameswerings teorieë. Kan nie wag om die volgende reeks teorieë te hoor nie. Daar was darem ‘n paar knullers met die eerste golf. Ons lag nounog oor van hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.