Covid-19-samevatting: Duitsland se Oktoberfest gekanselleer

Oktoberfest (Foto: Heribert Pohl via Wikimedia Commons)

Duitsland se Oktoberfest sal nie vanjaar plaasvind nie weens die koronavirus-pandemie.

Openbare byeenkomste in Duitsland is steeds vir die volgende paar maande opgeskort. Die 187ste Oktoberfest sou van 19 September tot 4 Oktober plaasgevind het.

Markus Soeder, premier van Beiere, wat tradisioneel die eerste slukkie bier sou drink by die fees, het Dinsdag die kansellasie aangekondig. “Dit is sleg, dit is ongelooflik hartseer,” het Soeder tydens ʼn perskonferensie gesê.

Soeder en Dieter Reiter, burgemeester van München, het gesê hulle is vol vertroue dat die fees weer in 2021 sal voortgaan.

Ongeveer 6 miljoen mense van reg oor die wêreld woon gewoonlik Oktoberfest by. Die 2019-fees het ʼn inkomste van €1,23 miljard vir die streek beteken. Reiter het gesê restaurante, hotelle en taxibestuurders sal dus veral negatief geraak word deur die kansellasie.

Die Oktoberfest is ook in 1854 en in 1873 gekanselleer weens ʼn cholera-uitbreking. Die fees het ook nie tydens die Eerste Wêreldoorlog of Tweede Wêreldoorlog plaasgevind nie.

Duitsland het meer as 147 593 bevestigde gevalle van Covid-19. Minstens 4 869 persone is oorlede.

Statistiek wêreldwyd

Byna 2,5 miljoen gevalle is reeds wêreldwyd bevestig met 171 718 sterftes, aldus die Johns Hopkins-universiteit.

Die VSA het tot dusver 788 920 gevalle bevestig met 42 458 sterftes. New York het reeds meer as 14 000 sterftes aangemeld.

Spanje het 204 178 gevalle en 21 282 sterftes. Frankryk en Italië het ook reeds meer as 20 000 sterftes elk bevestig. Italië het 181 228 gevalle met 24 114 sterftes en Frankryk het 156 495 gevalle met 20 294 sterftes.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.