Covid-19-samevatting: Facebook-gebruikers gewaarsku oor vals nuus

Argieffoto (Foto: AP Photo/Amr Alfiky, File)

Die sosialemediaplatform Facebook sal jou binnekort laat weet as jy vals nuus oor Covid-19 versprei het.

Die maatskappy het gesê hy sal binnekort gebruikers laat weet as hulle op die “like”-knoppie geklik het op plasings met skadelike misleidende inligting, of daarop reageer of daarop kommentaar gelewer het en deur die moderators verwyder is.

Facebook het Donderdag gesê gebruikers sal binnekort waarskuwingsboodskappe begin ontvang.

Dié platform en ander sosialemediakanale het reeds stappe gedoen om gevaarlike vals nuus te verhoed wat oor die koronavirus versprei word.

Facebook het advertensies verbied wat enige behandelings of kure beloof. “Daar bestaan nog nie so iets nie. Daar is geen teenstof nie, alhoewel daar wêreldwyd spoedig gewerk word om een te ontwikkel.”

WGO-direkteur hoop Trump sal weer oor finansiering besin

Matshidiso Moeti, die streeksdirekteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir Afrika (Foto: Twitter/@MoetiTshidi via ANA)

Matshidiso Moeti, die streeksdirekteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir Afrika, het gesê sy hoop die Amerikaanse president Donald Trump sal sy besluit heroorweeg om finansiering na die liggaam te staak, aangesien dit die stryd teen siektes op die kontinent sal verhinder.

Moeti het tydens ʼn perskonferensie oor Covid-19-pandemie, wat deur die Wêreld- Ekonomiese Forum gefasiliteer is, die belangrikheid van die VSA benadruk – nie net as ʼn finansierder nie, maar ook as ʼn strategiese vennoot om strategieë te ontwikkel om ernstige siektes in Afrika te bestry.

“Die VSA is ons grootste bydraer tot ons begroting,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Trump het die WGO sy basiese plig versuim vanweë die manier waarop die organisasie op die pandemie gereageer het.

“Ek het my administrasie opdrag gegee om finansiering te staak terwyl die rol van die Wêreldgesondheidsorganisasie in die wanbestuur en die verspreiding van die koronavirus bepaal word,” het Trump tydens ’n perskonferensie by die Withuis gesê.

Die VSA is die grootste enkele finansierder van die WGO en het verlede jaar $400 miljoen aan die organisasie betaal.

Covid-19 kan beduidende risiko inhou vir persone met hartsiektes

Johannesburg (15 April 2020) (Foto: Itumeleng English/African News Agency/ANA)

Covid-19 kan ʼn beduidende risiko inhou vir diegene wat aan kardiovaskulêre siektes ly, aldus nuwe navorsing van die Columbia University in die VSA.

Anna-Marié Grebe, mediese konsultant vir Pharma Dynamics, het gesê pogings het aanvanklik gefokus daarop om te bepaal wat die effek op asemhaling sal wees van die nuwe koronavirus, soos longontsteking en asemhalingsprobleme, maar dokters ondersoek nou die negatiewe impak op mens se hart.

“Alhoewel Covid-19 ʼn asemhalingsiekte is wat hoofsaaklik die longe raak, moet die hart harder werk om suurstofryke bloed na die liggaam te pomp wanneer die longe nie optimaal funksioneer nie. ʼn Koors, wat algemeen by Covid-19-pasiënte voorkom, kan ook lei tot hartkloppings wat vererger kan word deur lae suurstofvlakke weens die longontsteking,” het sy gesê.

Volgens Grebe kan dit die risiko verhoog dat pasiënte, wat reeds hartprobleme onder lede het, hartversaking ontwikkel of ʼn hartaanval kan kry.

Grebe het benadruk dat daar egter nie enige rede is om paniekerig te raak nie, aangesien 82% van gevalle slegs tot matige simptome lei.

“Basiese voorkomingsmaatreëls kan almal beskerm, insluitend diegene met bestaande hartsiektes. Alhoewel ʼn bestaande hartsiekte nie beteken dat jy beslis die virus gaan opdoen of dat jy ernstige komplikasies gaan ontwikkel nie, bly voorkoming die beste.”

Meer as 2 500 in Egipte besmet

Egipte se minister van gesondheid, Hala Zayed (Foto: @uhc2030/Twitter via ANA)

Gesondheidsowerhede in Egipte het bevestig die land het nou 2 505 gevalle van Covid-19 – dit is ʼn toename van 155 gevalle sedert Woensdag, het die aanlyn nuuswebwerf Egypt Today berig.

Die ministerie het ook vyf nuwe sterftes aangemeld. Die dodetal staan tans op 183.

Die land kon 25 000 toetse doen om die verspreiding van die virus te voorkom.

Volgens die moniteringsorganisasie, Middle East Eye, was byna 100% van koronavirus-sterftes in Egipte persone met chroniese siektes, het die Wêreldgesondheidsorganisasie aangekondig.

Die regering het op 25 Maart ʼn klokreël aangekondig waar beweging van sy inwoners daagliks tussen 19:00 en 06:00 beperk word. Die klokreël duur voort tot 23 April.

 

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.