Covid-19-samevatting: Italië beëindig 10 weke lange afsonderingsperiode

Restaurant in Milan, Italë (18 Mei 2020) (Foto: Claudio Furlan/LaPresse via AP)

Nuwe besmettings en sterftes het beduidend in Europa verlangsaam en lande het ʼn maand gelede reeds afsonderingsriglyne begin verslap. Meeste lande berei voor om hul grense volgende maand oop te maak.

Italië het Maandag ʼn groot tree geneem om na normaliteit terug te keer toe meeste handelsaktiwiteit en sommige eredienste hervat het.

“Dit voel of mens weer moet leer hoe om te loop,” het eerste minister Giuseppe Conte in ʼn brief aan Leggo, ʼn gratis koerant, gesê. “Een tree op ʼn slag, versigtig en aandagtig, om seker te maak mens val nie agteroor nie. Italië is weer aan die gang.”

Winkels, haarsalonne, kafees, restaurante en verskeie museums het hul deure oopgemaak, maar hulle moet sosiale distansiëring van minstens 1 meter verseker. Italianers mag ook terugkeer strand toe en misdienste by die kerk bywoon.

Confcommercio, ʼn kleinhandelvereniging, beraam dat sowat 825 000 handelsaktiwiteite hervat, maar bygevoeg dat nie almal weer handel dryf nie. Die organisasie verwag dat sowat 30% van kafees en restaurante gesluit sal bly. Verskeie sake-eienaars het gekla oor die koste om nuwe gesondheid- en veiligheidsmaatreëls in te stel.

Sommige kafees en restaurante het twee weke gelede oopgemaak, maar slegs vir wegneemetes. Nou mag klante weer aansit en sommige restaurante het pleksiglas-skerms geïnstalleer om klante van mekaar af te sonder.

Sint Pieterskerk binne die Vatikaan het ook heropen terwyl ander toeristebestemmings, soos die Kolosseum na verwagting eers teen die einde van Mei weer besoekers sal verwelkom.

Haarkapper Piera Delogu in Milan, Italë (18 Mei 2020) (Foto: AP Photo/Luca Bruno)

Inwoners hoef nie meer ʼn vorm in te vul om te regverdig hoekom hulle buite is nie, solank as wat hulle binne hul eie streek bly. ʼn Verbod op reis na ander streke sal na verwagting op 3 Junie opgehef word.

Klante buite die La Rinascente-winkel in Milan moes in ʼn lang ry staan en wag tot hul koors geneem is. Personeellede het die eerste klante met ʼn applous verwelkom.

Algehele landswye afsondering is op 10 Maart in Italië ingestel. Tot dusver het die land 32 000 sterftes en ongeveer 225 500 besmettings aangemeld.

Gimnasiums en swembaddens sal na verwagting op 25 Mei heropen en flieks en teaters op 15 Junie. Buitelandse besoekers sal vanaf 3 Junie verwelkom word.

Die land se besmettingskoers het sedert einde Maart begin afplat, maar daar is kommer dat die opheffing van beperkings tot ʼn tweede golf besmettings kan lei. Conte het Saterdag gesê die land neem “ʼn berekende risiko” om die ekonomiese gevolge van die pandemie te verlig.

“Ons moet dit probeer. Mense is nou moeg daarvoor om by die huis te bly. Talle ondernemings word deur ondergang in die gesig gestaar,” het Massimo Galli van die Sacco-hospitaal in Milan, aan La Repubblica-koerant gesê.

Duitsland 

Duitsland se minister van buitelandse sake het verskeie opsies oor die heropening van grense met kollegas van sowat 10 ander lande bespreek.

“Vanjaar se vakansie gaan glad nie enigiets wees soos waaraan ons gewoond is nie,” het Heiko Maas aan ZDF-televisie gesê. “Die pandemie is nog steeds met ons en ons moet ten minste veiligheidsmaatreëls instel indien die getalle weer begin toeneem.”

Griekeland

Griekeland se regering het weer die Akropolis en ander antieke persele oopgemaak tesame met hoërskole, winkelsentrums en reis in die land. Plakkers op sypaadjies word gebruik om besoekers uit mekaar te hou.

Toeriste is almal plaaslik, aangesien ʼn 14 dag lange verpligte kwarantyn vir besoekers steeds geld. Reis na die Griekse eilande word hoofsaaklik steeds verbied.

Owerhede is gretig om weer Griekeland se toerismebedryf aan die gang te kry ná ʼn waarskuwing dat die land vanjaar waarskynlik die ergste resessie gaan beleef van die 27 lande in die Europese Unie.

Griekeland se strande het oor die naweek heropen tydens ʼn hittegolf, maar met streng sosiale distansiëring. Busse van Athene na die kus was egter volgepak.

België

Skoliere met gesigmaskers pas sosiale distansiëring toe by Les Magnolias-laerskool in Brussel, België (18 Mei 2020) (Foto: AP Photo/Francisco Seco)

Leerders het in België teruggekeer skool toe en haarkappers het hul deure oopgemaak. Museums en dieretuine het ook heropen, maar almal met streng maatreëls om verdringing te voorkom.

Opelug markte het ook weer vrugte en groente begin verkoop.

Ierland 

Gholfbane en kwekerye het in Ierland heropen, maar gesondheidsminister Simon Harris is bekommerd dat die virus nog nie verdwyn het nie.

“As Ierland alles kan regkry binne die volgende drie weke, sal ons as ʼn land ʼn manier kry om veilig te leef te midde van die virus,” het Harris aan RTE-radio gesê.

Portugal

Die Portugese eerste minister Antonio Costa het ʼn oggendkoffie geniet by ʼn kafee in Lissabon en middagete by ʼn restaurant saam met die speaker van die parlement. Owerhede moedig burgers aan om plaaslike ondernemings te ondersteun.

“Ons kan nie na ons ou lewe terugkeer terwyl die virus nog met ons is nie, maar ons moet die ekonomie weer aan die gang kry,” het Costa aan verslaggewers gesê.

Frankryk

Owerhede is bekommerd nadat sowat 70 besmettings in skole aangemeld is nadat skoliere verlede week teruggekeer het. Sowat 40 000 kleuterskole en laerskole het verlede week hul deure oopgemaak, met ʼn maksimum van 15 leerders per klas.

Statistiek wêreldwyd

Volgens Johns Hopkins-universiteit is 4,7 miljoen wêreldwyd reeds besmet met Covid-19 met 1,7 miljoen persone wat reeds herstel het. Meer as 316 000 sterftes is aangemeld.

 

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem ·

Suid Afrika sal seker nog 10 weke aangaan want die bevelsraad en ministers verdien n klomp geld per maand en hul maats kry geld uit hulpfondse.
Lekker man

Emily ·

Ja en SA soek nog verskonings on langer in lockdown te bly.
Hulle wil ook dink aan verskonings om nie drank en sigarette te lig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.