Covid-19-samevatting: Italië se skole tot September gesluit

‘n Werker by Brescia-hospitaal in die noorde van Italië (12 Maart 2020) (Foto: AP Photo/Luca Bruno)

Skole in Italië sal tydens die somervakansie gesluit bly en eers weer in September oopmaak, het die eerste minister gesê.

Italië is al langer as enige ander Westerse land in afsondering. Meer as 26 000 sterftes en nagenoeg 200 000 gevalle is reeds in die land aangemeld.

“Die skole is baie belangrik vir ons en sal in September oopmaak,” het eerste minister Giuseppe Conte Sondag aan La Repubblica-koerant gesê.

Die regering het op 5 Maart skole, universiteite en dagsorgsentrums in die land gesluit in die stryd teen Covid-19.

Conte het onderneem om stappe bekend te maak om afsonderingsmaatreëls op te hef wat op 3 Mei 2020 verval.

Die eerste minister het gesê sekere “strategies” belangrike ekonomiese aktiwiteit sal binnekort hervat, waarskynlik binne ʼn week, insluitend die vervaardigingsbedryf. Prioriteit sal gegee word aan uitvoer-gedrewe besighede wat hul plek in internasionale verskaffingskettings kan verloor. “Die gesondheid en veiligheid van personeel is egter topprioriteit.”

Britse eerste minister terug op sy pos

Boris Johnson (Foto: AP)

Boris Johnson, die Britse eerste minister, het laat Sondag na Downingstraat in Londen teruggekeer ná hy van Covid-19 herstel het, het ʼn regeringswoordvoerder aan die dpa-nuusagentskap bevestig.

Johnson hervat Maandag sy pligte by die amptelike woning van die premier.

Hy het by Chequers aangesterk, die eerste minister se woning buite Londen ná hy op 12 April uit die hospitaal ontslaan is.

Hy het ʼn week lank behandeling ontvang by St Thomas-hospitaal in Londen, insluitend drie nagte in die hoësorgeenheid.

Meer as 152 000 gevalle van Covid-19 is reeds in die Verenigde Koninkryk aangemeld met minstens 20 732 sterftes.

Franse fietsryers angstig om te oefen

Tour de France (28 Julie 2019) (Foto: AP Photo/Thibault Camus)

Die Franse fietsryfederasie het Saterdag geëis dat sy lede toegelaat moet word om individuele oefening te hervat sodra die land se afsonderingsperiode op 11 Mei verstryk.

Onder die land se afsonderingsmaatreëls is dit onwettig om buite fiets te ry vir oefening of sport. Slegs hardloop en stap word toegelaat en inwoners mag slegs met hul fietse gery het om winkel of werk toe te gaan.

Die Federation Franxaise de Cyclisme (FFC) het gesê dit sal “ondenkbaar” wees dat die verbod op fietsry ná 11 Mei voortduur.

“Dit sal neerkom op diskriminasie teen ons sport terwyl fietsry ʼn ongekende geleentheid bied vir ʼn volhoubare transformasie van vervoer in ons land,” het die FFC aangevoer.

Besonderhede is nog nie bekend gemaak watter afsonderingsreëls op 11 Mei opgehef sal word nie. Skole sal na verwagting op vrywillige basis mag oopmaak, maar kroeë en restaurante sal waarskynlik nog minstens vir Mei gesluit bly.

Die Tour de France het verlede week sy aanvangsdatum van 27 Junie na 29 Augustus geskuif ná pres. Emmanuel Macron gesê het geen groot openbare geleenthede sal voor die middel van Julie toegelaat word nie.

Meer as 162 000 gevalle van Covid-19 is reeds in Frankryk aangemeld met byna 23 000 sterftes.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.