Covid-19-samevatting: Meer as 10 miljoen gevalle nou wêreldwyd

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die aantal bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus oor die wêreld heen het Sondag 10 miljoen oorskry. Dit volg sowat ses maande nadat die eerste gevalle in Desember in Wuhan, China, aangemeld is.

Volgens die barometer Worldometer se statistieke het 10 110 117 pasiënte oor 213 lande teen Sondagmiddag reeds positief getoets vir Covid-19 van wie 501 878 weens die virus gesterf het.

Meer as die helfte van die pasiënte (5 482 050) het egter reeds herstel.

Daar is dus tans 4 126 189 aktiewe gevalle van Covid-19 oor die wêreld met 99% van dié pasiënte in ’n matige toestand. Altesaam 57 877 (1%) van pasiënte verkeer egter in dié stadium in ’n ernstige of kritieke toestand.

Die VSA

Motoriste het vandeesweek in toue gestaan om getoets te word by ‘n deurry-toetssentrum in Miami, Florida. (Foto: AP Photo/Wilfredo Lee, File)

Sondag blyk ’n somber dag te wees wat die nuwe koronavirus betref aangesien die VSA boonop vroeër vandag die 2,5 miljoen-kerf oorgesteek het.

Dié land het in dié stadium steeds die meeste Covid-19-gevalle (2 596 771) van al die ander wêreldlande met die Amerikaanse deelstate Florida en Texas wat nou veral deurloop.

Om sake te vererger glo Amerikaanse gesondheidsbeamptes dat die VSA se syfers in werklikheid tien keer hoër kan wees. Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer skat dat 20 miljoen Amerikaners reeds die virus opgedoen het.

Baie suidelike en westelike Amerikaanse deelstate het die afgelope week ’n skerp toename in Covid-19-gevalle beleef nadat afsonderingsregulasies verslap is. Die deelstate Texas, Florida en Arizona het nou weer strenger afsonderingsmaatreëls ingestel in ’n poging om die toenemende infeksies hok te slaan.

Indië

Mense sit Saterdag buite ‘n staatshospitaal in Jammu, Indië. (Foto: AP Photo/Channi Anand)

Indië het Sondag 19 906 nuwe gevalle van Covid-19 aangemeld – dié land se grootste daaglikse toename nóg.

Volgens die Indiese ministerie van gesondheid het nog 410 pasiënte intussen in dié land weens die virus gesterf.

Altesaam 528 859 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus is reeds in Indië aangemeld. Die land se dodetal staan nou op 16 095 hoewel 309 712 pasiënte reeds herstel het.

Die Wes-Indiese deelstaat Maharashtra gaan tans die meeste daaronder gebuk met 159 133 gevalle gevolg deur die nasionale hoofstad Delhi. Altesaam 80 188 mense in dié stad het reeds positief getoets vir Covid-19.

Bronne: BBC, CNN, Worldometer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Human ·

Don Tantrum Trump en Covid 19! Die perfekte storm. 25% van alle aangetekende getalle en sterfte syfer in die VSA alleen, dit is wat gebeur as ‘n onbevoegde narsis, inbeheer is van ‘n land en hy het nie naastenby, ‘n idee, van wat hy doen.

katara ·

Ek stem 100% saam met jou Human!! Hy is totaal en al onbevoeg en daar gaan nog BAIE mense doodgaan as gevolg van hom. Ek waarsku jou net dat dit nie ‘n “popular” opinie hier is nie… daar is baie Trump ondersteuners hier.

Human ·

Ek weet en het al goed kennis gemaak met sy juigkommando, maar “sticks en stones can break my bones but words don’t hurt me”.

Human ·

Ek lewer nie kommentaar om gewild te wees, maar die waarheid moet gehoor word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.