Covid-19-samevatting: Meer as ʼn miljoen pasiënte het reeds herstel

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Vadim Ghirda, AP)

Meer as ʼn miljoen pasiënte oor 210 lande het nou reeds herstel van Covid-19 wat deur die nuwe koronavirus veroorsaak word.

Volgens die barometer Worldometer se statistieke het 1 000 355 Covid-19-pasiënte teen Donderdagoggend herstel hoewel 228 236 pasiënte reeds weens die virussiekte gesterf het.

Altesaam 3 220 346 bevestigde gevalle van Covid-19 is tot op hede aangemeld.

Amerikaanse ekonomie krimp ineen

Pres. Donald Trump spreek die media toe in Washington. (Foto: Alex Brandon, AP)

Die VSA is steeds die land met die meeste gevalle van Covid-19 tot op hede. Meer as ʼn miljoen gevalle (1 064 572) is reeds in dié land aangemeld met die dodetal wat tans op 61 669 staan.

Amptelike syfers het boonop Woensdag getoon dat die Amerikaanse ekonomie sy ergste inkrimping in meer as ʼn dekade in die eerste kwartaal van 2020 beleef. Die land se ekonomie het met ʼn jaarlikse koers van 4,8% geval te midde van die Covid-19-pandemie.

Goeie nuus vir Suid-Korea

Mense loop in Seoul, Suid-Korea. (Foto: Lee Jin-man, ANA)

Suid-Korea het Woensdag geen nuwe gevalle van Covid-19 aangemeld wat plaaslik oorgedra is nie. Dit is ʼn mylpaal vir die land wat oor die afgelope paar maande erg gebuk gegaan het onder die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.

Die land het vier nuwe gevalle aangemeld hoewel dié gevalle almal by lughawens waargeneem is. Dit bring die getal Covid-19-gevalle in Suid-Korea op 10 765 te staan.

Volgens die Koreaanse sentrum vir siektebeheer en -voorkoming is dit die laagste daaglikse toename in gevalle in meer as twee maande. Dít nadat Suid-Korea enkele maande gelede nog honderde nuwe gevalle op ʼn daaglikse grondslag aangemeld het. Die land is egter wyd geloof vir sy toetsvermoëns.

Bronne: BBC, Worldometer, ANA

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

En hoekom moet ons iets glo wat van die komunistiese lande kom?

Willem

Aangesien ons gemonitor word sal ek niks se nie maar lees gerus Peter Bruce Die artikel verskyn in Businesslive