Covid-19-samevatting: New York steek Italië verby in gevalle

‘n Covid-19-pasiënt word Dinsdag by ‘n hospitaal in Queens, New York, ingestoot. (Foto: Kathy Willens)

Meer as 800 nuwe gevalle van die nuwe koronavirus is Dinsdag in New York City in die VSA aangemeld.

Byna 140 000 mense in die Amerikaanse deelstaat New York het reeds positief vir Covid-19 getoets. Die getal gevalle in dié staat alleen het dus nou die getal gevalle in Italië (135 586) verbygesteek nadat dié Europese land eens die episentrum van die virus was.

Die staat New York het ook Dinsdag sy meeste sterftes nog in ’n dag aangemeld – 731. Meer as 5 000 pasiënte het reeds in die staat omgekom. Die VSA is in dié stadium die episentrum van die virus met 400 412 bevestigde gevalle Covid-19 reg oor dié land aangemeld.

Die aantal sterftes weens Covid-19 in Frankryk het nou die 10 000-kerf oorgesteek. Altesaam 10 328 pasiënte het sedert die begin van Maart in dié land weens die nuwe koronavirus omgekom – 607 van die sterftes is die afgelope 24 uur aangemeld. Frankryk het tans 109 069 bevestigde gevalle Covid-19.

Altesaam 1 431 691 bevestigde gevalle Covid-19 is teen Woensdag vroegoggend reg oor 209 lande en twee passasierskepe aangemeld.

Jack Ma (Foto: ANA)

Afrika

Die Chinese miljardêr Jack Ma het ’n skenking aan Afrikalande gemaak om hulle te help met die bekamping van die Covid-19-pandemie. Dié skenking sluit in 500 ventilators, 200 000 beskermende pakke en gesigskerms, 2 000 termometers en 500 000 handskoene en sal na 54 Afrika-lande versprei word.

Dit is Ma se tweede skenking aan Afrika.

Die regering van Botswana sal Woensdag besluit of die noodtoestand in die land tot ses maande verleng word of nie. Dié besluit sal vandag gedurende ’n parlementêre debat geneem word.

Mokgweetsi Masisi, president van Botswana, het Dinsdag egter gesê hy hoop nie dat die noodtoestand in die land met maande verleng moet word nie. Die land het reeds ses gevalle Covid-19 en een sterfte wees die virus aangemeld.

Intussen word private hospitale in Lagos in Nigerië nie in die stadium toegelaat om Covid-19-pasiënte te behandel nie.

Akin Abayomi, staatskommissaris van gesondheid, het gesê hoewel die aantal gevalle Covid-19 in die staat Lagos toeneem, kan gesondheidswerkers steeds die tempo waarteen dit styg hanteer. Altesaam 254 gevalle Covid-19 en ses sterftes is tans in Nigerië bevestig.

Die Zambiese regering het aangedui dat ’n algehele landwye afsondering nie in Zambië ingestel sal word nie omdat dié land dit nie sal oorleef nie.

“Daar word gedurende ’n afsondering van burgers verwag om nie hul huise te verlaat nie. Dit beteken ook dat winkels en ander fasiliteite, buiten hospitale en polisiestasies, sal moet sluit,” het Dora Siliya, woordvoerder van die regering, gesê.

‘n Klant ontsmet sy hande in ‘n winkel in Francistown, Botswana. (Foto: AP)

Volgens Siliya het dokters in die land aangeraai dat ’n afsondering van minstens 14 dae ingestel sal moet word, hoewel 30 dae nodig is om doeltreffend te wees. Sy het verduidelik dat landsburgers gedurende ’n tydperk van afsondering sal omkom van die honger aangesien talle daagliks mieliepap koop om te oorleef.

Siliya het gesê die Zambiese regering het nou besluit om ’n beroep op burgers te doen om tuis te bly hoewel enkele fasiliteite sal oopbly in ’n poging om die verspreiding van die virus in die land te bekamp.

Altesaam 39 gevalle is tans in die land aangemeld. Een pasiënt het reeds weens Covid-19 omgekom.

Bronne: BBC, CNN, ANA, Worldometer

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.