Covid-19-samevatting: Onderwyser toets positief

Onderwysers word getoets vir Covid-19 by The Settlers High School in Bellville (Foto: Courtney Africa, ANA)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het Maandag bevestig ʼn onderwyser in Delft in Kaapstad het Maandag positief getoets vir Covid-19. Dit is slegs ʼn week voor die skole weer vir leerders heropen.

Die onderwyser van The Hague Primary in Delft in Kaapstad het Maandag positief getoets vir die virus.

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het verlede week Dinsdag aangedui dat onderwysers vandag reeds sou terugkeer skool toe om voor te berei vir die terugkeer van graad 7- en graad 12-leerders op 1 Junie.

Kerry Mauchline, die LUR vir onderwys, sê die nodige protokol, soos uiteengesit deur die departement van gesondheid, moet nou gevolg word. “Die skool sal ten volle ontsmet word. Diegene wat in kontak was met die onderwyser sal vir 14 dae moet self-isoleer,” sê Mauchline.

Wilma Adams, ’n onderwyser by The Settlers High School in Bellville, het gesê as onderwysers is hulle al minder angstig om terug te keer skool toe, omdat die skool hulle goed op hoogte gehou het van al die maatreëls wat getref is vir hul terugkoms. Hulle kry ook gereeld terugvoer van die senior bestuurslede van die skool oor die stand van sake.

Adams se kollega, Melikhaya Nongauza, sê hy is egter steeds angstig om terug te keer skool toe, omdat hy vrees dat hy, sy kollegas of leerders aan die virus blootgestel kan word.

Die Wes-Kaap word beskou as die episentrum van Covid-19 in die land. Die departement van gesondheid het tot dusver reeds 14 740 gevalle in die provinsie aangeteken. Minstens 6 525 mense het herstel en 281 het weens die virus omgekom.

Minstens 22 583 gevalle van Covid-19 is reeds landswyd in Suid-Afrika aangemeld met 429 sterftes.

Renosterspesie kan uitsterf weens pandemie

Die twee renosters wat oor is van die uiters skaars Noord-witrenosterspesie (Foto: Ben Curtis, AP)

In Kenia word die pogings, om ’n uiters seldsame noordelike witrenosterspesie met in-vitro-bevrugting te red, gekniehalter weens die reisbeperkings wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is.

In-vitro-bevrugting was in die proses om van stapel gestuur te word waar eierselle van die laaste twee oorblywende renosterkoeie van dié spesie, wat in die Ol Pejeta-bewaringsgebied in Kenia aangehou word, versamel word.

Dit sou dan gebruik word om embrio’s in ’n laboratorium te skep en dié eiers saam met bevrore spermselle van dooie renosterbulle in ’n suidelike witrenoster te insemineer.

Wetenskaplikes van Kenia, die Tsjeggiese Republiek, Duitsland en Italië sou dié in-vitro-bevrugting behartig, maar kon nie na Kenia reis nie weens die landsgrense wat gesluit is.

Cesare Galli, ’n in-vitro-kenner van Italië, sê tyd werk tans teen hulle omdat die laaste twee oorblywende renosters van dié spesie al hoe ouer word.

In Maartmaand sou nog eierselle van die twee renosterkoeie versamel word.

Volgens Zachariah Mutai, een van die renosterbewaarders, is die enigste manier om dié renosterspesie te red deur die in-vitro-bevrugting.

Die doelwit is om uiteindelik ’n kudde van minstens vyf renosters te skep wat dan teruggeneem kan word na hul natuurlike habitat. Dié aanteelproses kan dekades lank duur.

107-jarige herstel van Covid-19

ʼn 107-jarige vrou van Iran wat positief getoets het vir Covid-19, het van die virus herstel. Só het die Iranse nuusagentskap, Fars News Agency, Sondag berig.

Saltanat Akbari is in die Khansari-hospitaal in die sentrale stad van Arak in Iran opgeneem waar sy vir ʼn wyle geïsoleer is. Sy is met behulp van dokters en verpleegsters verpleeg en  later ontslaan.

Iran het tans 133 521 positiewe Covid-19-gevalle. Sowat 7 359 mense het reeds weens die virus omgekom.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Agge nee ·

Nou gaan die vakbonde seker aanvoer dat die onderwyser dit by die skool, wat nog nie begin het nie, aangesteek het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.