Covid-19-samevatting: Só lyk verspreiding wêreldwyd

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Patrick Semansky)

Wêreldwyd is daar reeds meer as 1,2 miljoen Covid-19-gevalle en meer as 66 000 sterfgevalle aangemeld.

Dít is volgens die gesaghebbende Johns Hopkins-Universiteit in die VSA. Die aantal mense wat ten volle van die virus herstel het, is meer as 230 000.

Pres. Donald Trump het gewaarsku dat die VSA in die komende weke deur sy moeilikste tyd nog sal gaan. Meer as 300 000 mense is reeds met Covid-19 gediagnoseer en meer as 8 400 sterftes is al aangemeld. Meer as 3 500 van die sterftes is in New York aangemeld.

In Frankryk het die Covid-19-dodetal tot 7 560 gestyg. Meer as 440 mense is in 24 uur in hospitale dood. Meer as 28 000 mense word in hospitale behandel met meer as 6 800 mense wat in intensiewesorg-eenhede behandel word.

In die foto wat deur Buckingham-paleis beskikbaar gemaak is praat koningin Elizabeth II telefonies met eerste minister Boris Johnson vanaf Windsor-kasteel. Foto: (Buckingham Palace via AP)

Koningin Elizabeth gaan Brittanje vanaand toespreek. Die 93-jarige monarg lewer jaarliks ʼn Kersboodskap, maar het nog net drie keer vantevore die nasie toegespreek soos wat sy vanaand gaan doen. Daar is meer as 42 000 bevestigde Covid-19-gevalle in die Verenigde Koninkryk en meer as 4 300 sterfgevalle.

Pous Franciskus het met die eerste van verskeie plegtighede begin gedurende die Heilige Week wat vanjaar weens die koronaviruspandemie sonder die publiek gehou sal word. Derduisende mense woon gewoonlik van die geleenthede by. Daar is sewe bevestigde Covid-19-gevalle in die Vatikaanstad.

Pope Franciskus Sondag in die St. Petrus-basiliek in die Vatikaan. Foto: (AP Photo/pool/Alberto Pizzoli)

In Sri Lanka is nagenoeg 2 900 gevangenes uit oorvol tronke vrygelaat in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te beperk. ʼn Landwye afsondering geld sedert 20 Maart in die eilandstaat waar die aantal bevestigde gevalle van Covid-19 tot 166 gestyg en reeds vyf lewens geëis het.

Turkye se minister van gesondheid het bevestig dat die land 76 Covid-19-sterfgevalle in die afgelope 24 uur aangeteken het en dat die dodetal in die land tot 501 gestyg het. Die aantal bevestigde gevalle het tot amper 24 000 gestyg.

‘n Polisiebeampte in Sri Lanka. Foto: (AP Photo/Eranga Jayawardena)

Chinese gesondheidsowerhede het Sondag 30 nuwe gevalle van koronavirus aangemeld, onder wie 25 mense wat van oorsee af in die land aangekom het. Die ander vyf gevalle was in die provinsie Guangdong in die suide van China, wat aan Hongkong grens.

Die meeste buitelanders word verbied om China binne te kom nadat die verspreiding van die virus grotendeels stopgesit is. Daar word egter nou gevrees dat besmette mense uit die buiteland nuwe uitbrekings kan veroorsaak. Intussen is nog drie mense in Wuhan, waar die pandemie begin het, dood en staan die land se dodetal op 3 329 met meer as 81 000 bevestigde gevalle.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henk ·

Het Buckingham paleis nog ‘n sentrale?
“Buckingham Palace, number please? ” “Boris Johnson”, ” Sure your majesty, I’l put you through…” ;-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.