Covid-19-samevatting: Swanger vrou sterf, baba leef ná noodkeiser

Mary Agyeiwaa Agyapong.

ʼn Swanger verpleegster wat positief vir Covid-19 getoets het, is dood nadat sy ʼn noodkeisersnee ondergaan het om haar baba se lewe te red.

Mary Agyeiwaa Agyapong (28) is Sondag in ʼn hospitaal in Londen dood. Daar is besluit om ʼn noodkeisersnee te doen nadat haar toestand vinnig versleg het. Volgens Brittanje se National Health Services (NHS) was Agyapong ’n fantastiese verpleegster.

Die uitvoerende hoof van die NHS Trust, David Carter, het aan Channel 4 gesê die oorlewing van Agyapong se dogtertjie is ʼn “baken van lig in hierdie baie donker tyd”. Volgens berigte was Agyapong 28 weke swanger toe sy ophou werk het en was sy agt maande swanger toe die noodkeisersnee uitgevoer is.

Matt Hancock, Brittanje se minister van gesondheid, het intussen aangekondig dat nuwe prosedures ingestel sal word sodat mense waar moontlik ʼn kans kry om afskeid te neem van geliefdes wat aan Covid-19 sterf. Volgens Hancock het hy in trane uitgebars toe hy gehoor het van ʼn 13-jarige seun wat vroeër die maand in ʼn hospitaal dood is sonder dat sy ouers by hom kon wees.

In Turkye is daar 115 Covid-19-sterftes in die afgelope 24 uur aangemeld. Daar is nou amper 70 000 bevestigde Covid-19-gevalle in die land en die dodetal is net meer as 1 500.

Justin Trudeau. Foto: (Justin Tang/The Canadian Press via AP)

Kanada se afsonderingstydperk sal nog “baie weke langer” voortduur het eerste minister Justin Trudeau gesê. Hy het gewaarsku dat indien die ekonomie te gou heropen word, al die opofferings wat nou gemaak word tot niet kan wees aangesien daar nog ʼn piek kan wees in Covid-19-gevalle. Daar is meer as 27 000 Covid-19-gevalle en 954 sterftes in Kanada.

Duitsland beoog om klein winkels toe te laat om so vroeg as volgende week te heropen ná ʼn vier week lange afsonderingstydperk. Streng maatreëls ten opsigte van sosiale distansiëring sal egter geld.

Angela Merkel, Duitse bondskanselier, het gesprekke met Duitsland se 16 staatsgoewerneurs gehad waartydens ʼn plan vir die eerste stappe om openbare lewe te hervat uiteengesit is. Sedert 23 Maart geld ʼn verbod op byeenkomste van meer as twee mense. Duitsland het meer as 137 000 Covid-19-gevalle en net meer as 4 000 sterftes.

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Alex Brandon)

In die VSA het pres. Donald Trump aan goewerneurs ʼn plan voorgelê vir die herstel van die ekonomie midde die koronavirus-pandemie. “Ons begin weer met ons lewe,” het Trump tydens ʼn mediakonferensie gesê. “Ons begin weer met die herstel van ons ekonomie.” Plekke in die VSA met dalende infeksies en sterk toetsing sal met ʼn geleidelike heropening van ondernemings en skole begin in drie fases. Die VSA het meer as 670 000 Covid-19-gevalle en meer as 33 000 sterftes.

Italië se daaglikse toename in Covid-19-gevalle neem intussen steeds af. Italië het meer as 168 000 Covid-19-gevalle en meer as 22 000 sterftes.

Wêreldwyd is daar reeds meer as 2,1 miljoen Covid-19-gevalle en 145 000 sterftes.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dirk ·

Megan, Elize is reg. Die berig sê “Die VSA het meer as 67 000 …” – die waarde van ‘n 0 in dié opsig beteken baie!!

Megan Swart ·

Dagsê Dirk
Die syfer kort inderdaad ‘n 0. Ons vra om verskoning vir die flater. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.