Covid-19: Situasie in Indië is ‘hartverskeurend’

Familielede omhels mekaar in New Delhi tussen brandstapels van slagoffers wat weens Covid-19 gesterf het (26 April 2021) (Foto: Jewel SAMAD / AFP)

Die eerste mediese noodvoorraad teen Covid-19 het Dinsdag Indië bereik as deel van die wêreldwye veldtog om ʼn katastrofiese golf in dié pandemie-brandpunt te stuit. Die Verenigde State van Amerika het onderneem om miljoene dosisse AstraZeneca-enstof aan die land te verskaf.

Indië se infeksie- en sterftekoers styg eksponensieel en hospitale is oorweldig, in teenstelling met Westerse lande waar beperkings gedeeltelik opgehef word.

Meer as 3,1 miljoen mense het reeds wêreldwyd weens Covid-19 gesterf, uit minstens 147 miljoen wat die virus opgedoen het.

Meer as 2 800 sterftes en 352 991 nuwe gevalle is Maandag in Indië aangemeld. Dit bring die dodetal op sowat 195 000 te staan uit ʼn bevolking van 1,3 miljard.

Kratte ventilators en suurstofmasjiene van die Verenigde Koninkryk het Dinsdagoggend by ʼn lughawe in Delhi aangekom, die eerste noodvoorraad wat in die land aangekom het.

“Só lyk internasionale samewerking,” het Arindam Bagchi, woordvoerder van Indië se ministerie van buitelandse sake, op Twitter gesê toe hy foto’s van die kratte gedeel het.

AFP-foto’s wys liggame van Covid-19-slagoffers wat elders in die hoofstad in rye op brandstapels gepak is.

ʼn Werker staan langs beddens wat gereedgemaak word om ʼn stadion in Srinagar in ʼn Covid-19-sentrum te omskep (27 April 2021) (Foto: Tauseef Mustafa/AFP)

“So baie mense sterf omdat hulle nie toegang het tot basiese dienste nie,” het Vinod Kumar aan AFP gesê buite ʼn Delhi-hospitaal, terwyl hy gepoog het om medisyne vir ʼn siek familielid te koop. “Die regering het ons in die steek gelaat.”

Die VSA, Frankryk, Duitsland, Kanada en die Wêreldgesondheidorganisasie het almal die afgelope paar dae onderneem om dringend voorraad na Indië te stuur. Die Amerikaanse president Joe Biden het Maandag aangekondig die VSA sal tot 60 miljoen dosisse van die AstraZeneca-entstof oorsee stuur. Jen Psaki, woordvoerder vir die Withuis, het egter gesê daar is nog nie ʼn besluit geneem watter lande die entstof sal ontvang nie. Die administrasie is besig om sy verspreidingsplan te formuleer.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die WGO, het Maandag die situasie in Indië as “verby hartverskeurend” beskryf. “Die WGO doen alles in sy vermoë om kritieke toerusting en voorraad te verskaf.”

Ghebreyesus het gesê die jongste vlaag gevalle in Indië het hospitale oorweldig en krematoriums werk op volle kapasiteit. Meer as 2 600 WGO-kenners uit verskeie programme, insluitend polio en tuberkulose, sal ook met Indiese gesondheidsowerhede saamwerk in hul reaksie op die pandemie.

Frankryk het ook onderneem om agt suurstofvervaardigingseenhede, suurstofhouers en respirators aan Indië te stuur.

Talle lande het intussen besluit om sy grense te sluit vir reisigers van Indië, uit vrees vir ʼn variant wat moontlik die dryfkrag is agter die jongste oplewing van infeksies. Australië het Dinsdag alle vlugte van Indië verbied. Eerste minister Scott Morrison het gesê die verbod sal tot minstens 15 Mei van krag bly. Dit laat duisende Australiërs gestrand. Van die Australiërs in Indië is ʼn groep hoëprofiel-krieketspelers wat aan die Indiese Premierliga deelgeneem het. Dié land, met ʼn bevolking van 25 miljoen, het minder as 30 000 gevalle en 910 sterftes aangemeld sedert die pandemie begin het. Daar was nog nie enige groot uitbrekings sedert verlede jaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Karel

0.015% van Indië se bevolking is dus tot dusver aan Covid oorlede. SA se sterftesyfer staan tans op so 0.09%. Dis nou amptelike syfers.

pestilensie

Persentasie gewys nog better af as ons ?

Pieter

Moenie vergeet van Indië, en veral sy hoofstad met sy hoë vlakke van ongesonde lugbesoedeling nie. Dit vererger net die situasie. Moet nooit ‘n saak evalueer sonder om die omgewing waarin dit plaasvind in ag te neem nie.

Charles

Indie, ń land met 1380004385 mense in 2020 en ń sterfte syfer van 7,309 mense per 1000 in 2020.
As mens terug gaan na 1950 was die sterfte syfer 28,161 per 1000. Net so bietjie perspektief.

Blikkies

SA is oop vir die wereld insluitend Indie om by ons aan te sluit, siek of nie…kom gerus, die ANC sal julle met ope arms ontvang en versorg, nogal met Kubaanse dokters, maar ek belowe niks.