Covid-19: Só lyk die res van die wêreld

Mense staan Woensdag in ‘n ry buite ‘n kruidenierswinkel in Brussel, België, (Foto: Francisco Seco, AP)

Meer as 215 000 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus is tot op hede regoor die wêreld aangemeld. Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het nou die virus as ʼn “vyand van die mensdom” bestempel.

China het egter Woensdag vir die eerste keer in maande geen plaaslike oordrag- gevalle van die nuwe koronavirus bekend as Covid-19 aangemeld nie. Dit nadat die virus in Desember in dié land uitgebreek het. China het wel nog 34 gevalle aangemeld. Dié pasiënte het almal onlangs gereis.

Meer as 81 000 gevalle is die afgelope drie maande in China aangemeld. Hoewel 3 245 weens die virus omgekom het, het 70 000 reeds herstel.

Die nuwe episentrum van die virus is in dié stadium nog in die Europese Unie. Italië het in die afgelope 24 uur nog 475 sterftes aangeteken. Die dodetal in dié land staan tans op 2 978 met 35 713 gevalle reeds aangemeld.

Frankryk is steeds in lockdown met 9 134 gevalle en 264 sterftes tot op hede. België is intussen ook tot April onder slot geplaas met 1 486 bevestigde gevalle.

Angela Merkel, Duitse kanselier, het Woensdag gesê Duitsland ervaar tans sy grootste uitdaging sedert die Tweede Wêreldoorlog. Meer as 1 000 nuwe gevalle is oornag hier aangemeld. Dit bring die aantal bevestigde gevalle tot op hede in Duitsland op meer as 8 000 te staan.

Iran het intussen nog 10 000 gevangenes vrylaat in ’n poging om die virus te bekamp. Teen Dinsdag het dié land reeds 85 000 gevangenes vrygelaat. ’n Woordvoerder van dié land se regsdienste het op staatstelevisie gesê baie van dié gevangenes sal nie hoef terug te gaan tronk toe nie.

Enkele mense loop Woensdag by die Grand Place in Brussel, België. (Foto: Francisco Seco, AP)

Iran is een van die lande wat die ergste deur Covid-19 getref is met meer as 17 000 bevestigde gevalle en meer as 1 100 sterftes reeds aangemeld.

Altesaam 152 bevestigde gevalle is die afgelope 24 uur in Suid-Korea aangemeld. Dié land is ook een van die hoërisikolande met altesaam 8 565 pasiënte wat tot op hede positief vir die virus getoets het.

Singapoer het Woensdag 47 nuwe bevestigde gevalle aangemeld. Van dié pasiënte het 33 onlangs die land binnegekom. Meer as 313 pasiënte het tot op hede positief vir Covid-19 getoets waarvan meer as 100 reeds herstel het.

Saoedi-Arabië het 67 en Egipte 14 nuwe bevestigde gevalle aangemeld. Turkye het op sy beurt twee nuwe sterftes en 93 nuwe bevestigde gevalle aangemeld. Israel het tot op hede 433 bevestigde gevalle aangemeld.

In Griekeland het 418 pasiënte reeds positief vir Covid-19 getoets. Sosiale byeenkomste van meer as tien mense word in dié stadium in dié land verbied.

Meer as 600 gevalle is in Australië aangemeld. Sowat ’n helfte van dié gevalle is in die Australiese deelstaat Nieu-Suid-Wallis aangemeld. Die meeste van Australië se pasiënte het onlangs na die buiteland gereis. Die internasionale lugredery Quantas het nou sy dienste opgeskort.

‘n Man lewer Woensdag kos af in Brussel, België. (AP Photo/Francisco Seco)

Tasmanië, suid van die Australiese vasteland, het die strengste grensmaatreëls tot dusver in Australië aangekondig. Die eilandstaat plaas enige reisigers wat die land binnekom van Saterdag onder verpligte kwarantyn om die verspreiding van die virus te voorkom.

Nieu-Seeland het oornag nog agt gevalle aangemeld. Altesaam 28 pasiënte het tot op hede in dié land positief getoets vir Covid-19. Al dié pasiënte het onlangs gereis. Sosiale byeenkomste van meer as 100 mense word hiér verbied.

Fidji, Nicaragua en Zambië het nou die eerste bevestigde gevalle aangemeld. In Tunisië het een pasiënt herstel.

Bronne: BBC, Aljazeera, CNN, ANA

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kobus ·

Sal graag wil weet of daar enigsins teen China opgetree kan/gaan/mag word vir hierdie pandemie.Grens dit nie aan “moord” nie? Almal het ‘n mening maar geen woord oor die skuldige nl China word gerep nie. Hulle ekonomie gaan vinnig hertel terwyl die res van die wereld gaan ly. En dan gaan China die finale spyker in die doodskis slaan,totale oorname van arm /onderontwikkelende lande. Afrika is verseker vir hulle ‘n prioriteit.Minerale hulpbronne en oorgenoeg spasie om Chinese hier te vestig.

Johan Venter ·

Ek sien Sjina hou Amerika verantwoordelik en beskuldig Amerika daarvan dat hulle die pandemie begin het.

Johan Venter ·

En dan loop daar nog stories rond oor ‘n ekonomiese oorlog wat Sjina nou voer.

Gawie ·

Kobus, jy laat dit klink asof China met opset die virus ontwikkel het, toe met opset sy mense ge-infekteer het (waarvan meer as 3000 dood is daaraan, en dit ook toe die wêreld ingestuur het.
As daar teen iemand opgetree moet word, sou ek sê dit is daardie kerkgroep in Suid-Korea wat geweier het om hulle internasionale konferensie te kanselleer en wat toe gelei het tot ten minste 60% van Suid-Korea se besmettings. Baie van die konferensiegangers is daarna terug na hulle eie lande en het sodoende die virus vinnig oor grense laat versprei.

netMYopinie ·

China is ‘n kommunistiese land. Ek dink nie 3000 mense beteken enigsins iets vir hulle nie. Mense daar kan nie eers ‘n stukkie grond koop nie. Hoekom nie? Want die mense en die grond behoort aan die staat.

antieke antie ·

het die probleem wel in china begin? of net die simptome a g v die massas

Hoe nou? ·

Goeie vraag. Gawie, google 60 Minutes Australia – “Wet Markets” 8 March 2020. Regerings wêreldwyd word vir jare al gewaarsku oor die globale risiko’s verbonde aan daardie markte. 20 000 ja, twintig duisend, van hulle is gesluit sedert die uitbreek van die virus maar ander gaan nogtans voort. Dit help nie om aanhoudend die simptome te behandel terwyl die probleem blyk nie aangespreek MAG word nie. Ek stem saam, dit is nie net China nie, daar is baie ander lande waar dieselfde “tydbomme” wag. Is dit regverdig teenoor almal wat nou hul geliefdes aan die dood afstaan, is dit regverdig teeroor die diere wat wreedaardig gemartel word? Dit moet stop maar wêreld leiers is tjoepstil daaroor, verstaan dit nie?

Maria ·

Die statistieke kan nie korrek wees nie, baie mense ervaar dit net as ‘n ligte verkoue en word nooit aangemeld nie

Johan Venter ·

Vyand van die mensdom, klink reg vir my, dalk ‘n nuwe uitdrukking? Interessant genoeg was ons tot onlangs toe net bewus van misdaad teen die mensdom.

Gawie ·

As ek so kyk, is dit duidelik dat die maatrels wat China ingestel het gewerk het, want dit lyk of die besmettings vinnig begin afneem. Nou moet die res van die wêreld netr seker maak hulle volg dieselfde prosedures.

Vlekkie ·

Ek verstaan nie heeltemal die berig nie… dit sê Iran is die swaarste getref.. maar die ander lande se syfers is hoër? My seun bly in Cheq Republiek.. dié is ook heeltemal toe maar daar word nie oor hulle berig nie… My neef bly in Ierland.. 2 voetbalspelers het n toernooi bygewoon in n ander land en een is positief getoets vir die virus . En geen sprake van Ierland nie?

Marna ·

Iran laat gevangenis vry (en hul hoef heel moontlik nie terug te gaan nie)…. watter gevangenis is dit en wat baat hul hieruit? (Jammer as dit ‘n dom vraag is / ek iewers iets gemis het.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.