Die Covid-19-pandemie het reeds meer as 422 000 mense besmet en meer as 18 000 lewens geëis.
Suid-Korea het intussen meer as 100 nuwe gevalle van die nuwe koronavirus oor die afgelope 24 uur aangemeld. Altesaam 9 137 gevalle is nou reeds in Suid-Korea aangemeld, asook 126 sterftes. Die vorige dag is 76 nuwe gevalle aangemeld. Dit blyk egter steeds dat die verspreiding van die virus in Suid-Korea aan die afneem is.
In China is daar 47 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld en volgens die regering is al die gevalle mense wat onlangs oorsee was.
Geen nuwe gevalle is in Wuhan aangemeld nie, maar die staat van afsondering sal tot 8 April voortduur. Die twee maande lange staat van afsondering in die Hubei-provinsie is intussen opgeskort.
Mense wat van Woensdag af van oorsee af in Beijing in China aankom, sal vir Covid-19 getoets word en vir 14 dae in kwarantyn geplaas word.
Amerikaanse owerhede het intussen reeds meer as 9 000 van sy burgers wat in 28 lande gestrand was weens die Covid-19-pandemie huis toe gebring. Volgens berigte het Amerika nou reeds meer as 50 000 gevalle en 700 sterftes.

‘n Groenteverkoper stoot sy fiets in Noida aan die buitewyke van Nieu-Delhi, Indië. Foto: (AP Photo/Altaf Qadri)
Indië sal Woensdag met die grootste staat van afsondering in die wêreld begin. Narendra Modi, premier van Indië, het aangekondig dat die land se meer as 1,3 miljard inwoners vir 21 dae binne hul huise moet bly. Hy het gesê dit gaan ʼn groot slag vir die land se ekonomie wees en het $2 miljard beskikbaar gestel om die land se beleërde gesondheidsorgstelsel te versterk.
Intussen is meer as 69 000 Covid-19-gevalle reeds in Italië aangemeld en meer as 6 000 sterftes.
Byna ʼn vyfde van die wêreldbevolking is reeds in ʼn staat van afsondering geplaas.
Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
8 Kommentare
Hoe is dit MOONTLIK om nou al op 709 gevalle te staan? Worry niemand dan nie? Ons moes al op ‘n Lockdown gegaan het die eerste dag! Ons mense gee net nie om vir mekaar nie!!
Stem saam Jaco, Lockdown moes al die eerste dag gebeur het.
Uganda het na eerste geval , lockdown ….
Ons is darem nie een van die laastes nie. Ek dink die 21 dae idee is baie wys. Elke dag styg daardie getal in SA en in die wereld in geheel. Die virus moet gehalt en beheer word , anders raak dit soos ‘n onkeerbare sneeustorting.