Covid-19: Só maak ander lande met skole

‘n Klaskamer word in die Amerikaanse deelstaat Iowa skoongemaak. (Foto: AP Photo/Charlie Neibergall)

Talle ander lande spook nes Suid-Afrika met die vraag of skole weer moet sluit en in lande soos die VSA en Italië het skole nog steeds nie midde die Covid-19-pandemie heropen nie.

Hoewel daar besonder min data beskikbaar is wat die veiligheid van leerders en onderwysers te midde die Covid-19-pandemie verseker, is dit duidelik dat lande soos Swede se berekende risiko om glad nie sy skole te sluit weens die virus nie, nié die verspreiding van Covid-19 aangevuur het nie.

Daar word tans geredekawel of Suid-Afrikaanse skole weer sal moet sluit noudat die nuwe koronavirus al vinniger in Suid-Afrika versprei. Onderwysvakbonde meen dat talle leerders en onderwysers se lewe in gedrang geplaas gaan word, sou die skole oopbly.

’n Verslag deur die menseregtegroep Save the Children het intussen getoon dat die Covid-19-pandemie ʼn “onderwysnood” veroorsaak het met 9,7 miljoen kinders regoor die wêreld wat die gevaar loop om nooit weer terug te keer skool toe nie.

Terug skool toe

Argieffoto ter illustrasie (Foto: ANA)

Talle lande se leerders het reeds sonder voorval teruggekeer skool toe. Luidens inligting van internasionale nuuswebwerwe het meer as 20 lande se leerders teen begin Junie weer na die skoolbanke teruggekeer. Swede se skole het boonop nooit gesluit vir leerders jonger as 16 jaar oud nie.

Dié land het ten spyte van dié besluit nie ’n hoër infeksiekoers onder leerders aangeteken as sy buurland Finland wat wel sy skole weens Covid-19 gesluit het nie.

’n Gesamentlike verslag deur Swede en Finland se onderskeie gesondheidsagentskappe toon dat 1 124 bevestigde gevalle Covid-19 tussen 24 Februarie en 14 Junie onder kinders in Swede aangemeld is. Dít dui op 0,05% van die totale getal kinders tussen 1 en 19 jaar oud in Swede.

Finland het op sy beurt 584 gevalle Covid-19 onder leerders in dieselfde tydperk aangemeld wat óók gelykstaande is aan ongeveer 0,05%.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: ANA)

“Die sluiting van skole het dus geen meetbare direkte impak gehad op die aantal laboratoriumbevestigde gevalle by skoolgaande kinders in Finland of Swede nie,” word daar in die verslag bevind.

Skole in Wuhan in China, waar die nuwe koronavirus in Desember verlede jaar kop uit gesteek het, het ook in Mei heropen, berig BBC.

In Sjanghai is leerlinge in hul laaste jare van laerskool en hoërskool terug verwelkom, terwyl Beijing sy leerlinge in staat gestel het om voor te berei vir die Julie-eksamen aangesien die eksamen universiteitstoelating bepaal. Beijing se owerhede het egter sowat ’n maand gelede weer die skole gesluit wees ’n nuwe uitbreking van Covid-19 in dié stad.

Dié skole bly gesluit

Kathryn Edwards, ʼn spesialis in aansteeklike siektes by die Vanderbilt University School of Medicine in Nashville, Tennessee, sê dit is frustrerend dat daar nie meer data is wat aandui of skole moet sluit of oopbly nie. Edwards verleen tans raad aan die Nashville-skoolstelsel in die VSA waar daar óók gedebatteer word of skole moet heropen te midde van ’n toenemende aantal infeksies. Skole in Tennessee is tans gesluit.

Pres. Donald Trump (Foto: Alex Brandon, AP)

Die VSA het steeds die meeste gevalle van Covid-19 ter wêreld (3 695 469) en die land se dodetal staan tans op 141 124.

Pres. Donald Trump plaas tans druk op dié land se skoolstelsel vir die skole om te heropen en het reeds gedreig om finansiering van sekere deelstate te weerhou indien hulle nie die skole heropen nie, berig CNN. Die president het daarop gewys dat lande soos Swede, Duitsland en Denemarke hul skole veilig heropen of oopgehou het.

Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming sou gevolglik binnekort ’n verslag bekend stel oor die veilige heropening van skole in die VSA. Die bekendstelling van die verslag is egter Vrydag uitgestel.

Amerikaanse onderwysvakbonde skop vas teen die heropening van skole. “Ons kan eenvoudig nie die gesondheid van kinders, hul welstand en veiligheid of enige van ons kollegas in gevaar stel nie,” het Karla Hernandez-Mats, president van die United Teachers of Dade-unie en onderwyser, gesê.

Dr. Aileen Marty, epidemioloog van die Internasionale Universiteit van Florida, waarsku boonop dat kinders Covid-19 kan opdoen nes enige volwassene.

Leerders by ‘n skool in Ulsan, Suid-Korea. (Foto: Kim Yong-tae/Yonhap, AP)

In Suid-Korea sou skole aanvanklik einde Mei heropen, maar dit is met ʼn week uitgestel weens ’n Covid-19-uitbreking in Seoel se naglewe-distrik Itaewon. Skole hier het toe enkele dae nadat dit wel oopgemaak het, wéér gesluit weens ʼn skielike toename in nuwe gevalle.

Daar word ook tans in Italië geredekawel oor wanneer skole moet open. Dié land was een van die eerste episentrums van die nuwe koronavirus, hoewel meer as tien lande Italië sedertdien verbygesteek het. Altesaam 243 736 bevestigde gevalle en 35 017 sterftes is tot op hede in Italië aangemeld.

Die kleuterskole Don Milani en Sant’Antonio in die stad Ivrea is die enigste onderwysinstellings in Italië wat sedert Maart weer in dié land heropen het.

Die Italiaanse regering beplan om nes lande soos België, Brittanje en Frankryk skole teen September te laat open. Rusland, wat tans die vierde meeste gevalle ter wêreld het, het op sy beurt verlede maand aangekondig dat hy beplan om sy skole op 1 September te laat heropen.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: ANA)

Protesaksie oor die Italiaanse regering se plan vir die terugkeer van leerders het egter verlede maand in 60 Italiaanse dorpe en stede uitgebreek. Betogers meen dié plan, wat private klasse insluit, gaan ongelykhede onder leerders meebring en te veel verantwoordelikheid op skoolhoofde plaas.

Otto Helve, ʼn spesialis vir aansteeklike siektes by kinders by die Finse instituut vir gesondheid en welsyn, meen egter uitbrekings in skole is onvermydelik. “Maar daar ís goeie nuus. Tot dusver, met ʼn paar veranderinge aan skole se daaglikse roetines, lyk dit asof die voordele weens die heropening van skole die risiko’s oortref – ten minste waar die infeksiekoers in die gemeenskap laag is en amptenare bygestaan word ​​om gevalle te identifiseer, sê Helve.

Bronne: BBC, CNN, CNBC, Washington Post, The Guardian, Science Mag, Forbes, Worldometer, Medical Express.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Ons kinders ii in Nederland. Die kleinders was skool toe. Hulle skool was vir ongeveer 6 weke gesluit. Verlede Vrydag het hul somervakansie begin en September begin die nuwe skooljaar . Daar is geen probleme nie. Niemand dra maskers nie, slegs op openbare vervoer, waarvan hulle nie gebruik maak nie. In Mei was dasr vakansie ook en hulle het vir ‘n week na’ n oord gegaan. Heel normaal. Onthou, dit is die Noordelike halfrond. Hulle het nou 2 maande somervakansie. Dit was ook die einde van hulle skooljaar. Ons kan in elke geval nie vergelyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.