Covid-19: Strenger reëls geld weer in Walvisbaai

Walvisbaai (Foto: Brian McMorrow, Pbase Gallery via Wikimedia Commons)

Walvisbaai keer terug na vlak 1 van Namibië se Covid-19-afsonderingsregulasies terwyl die res van die land na ʼn buigsamer vlak 3 beweeg.

Volgens The Namibian het al 14 streke in Namibië vir die volgende 28 dae na vlak 3 beweeg, buiten Walvisbaai waar vlak 1 weer tot 8 Junie ingestel word.

Die algehele afsondering van die kusdorp volg ná twee opeenvolgende Covid-19 gevalle wat aangemeld is. Die twee persone wat positief getoets het, het met meer as 100 persone kontak gehad in Walvisbaai.

Die afsonderingsperiode sal weekliks gemonitor word en kan verleng word, aldus owerhede.

Die New Era-koerant het berig ʼn derde persoon het positief getoets vir Covid-19, en dit bring die totale getal gevalle in die land op 24 te staan.

Die jongste geval is ʼn 51-jarige Namibiër wat met ʼn 63-jarige man verbind word wat positief getoets het. Albei was bemanningslede op dieselfde vaartuig wat op 5 Mei van die Demokratiese Republiek van die Kongo aangekom het en ʼn vrag sout en vis afgelaai het.

Die mans was deel van agt bemanningslede (vier Namibiërs en vier uitlanders) wat op die skip gewerk het. Hulle was vermoedelik in kontak met ʼn besmette persoon terwyl die vrag afgelaai is. Die bemanningslede het nie almal die boot in die DRK verlaat nie, maar Kongolese het die skip betree.

Kalumbi Shangula, minister van gesondheid, het gesê Walvisbaai is ʼn groot bestemming vir reisigers van hoërisikolande. Vlak 1-regulasies sluit in dat skole en universiteite gesluit word, openbare byeenkomste van meer as 10 persone word verbied, reis sonder ʼn permit word verbied, die verkope van alkohol word verbied, en beweging word beperk.

Tydens vlak 3 word sommige regulasies opgehef en byeenkomste van meer as 50 persone word toegelaat. Namibië se grense bly egter gesluit en die beperking op oorgrensbeweging bly ook van krag, met die uitsondering vir die vervoer van goedere.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Namib ·

Ons slim manne het besluit om die vlakke te begin op 1 en dan af te skaal na 2, 3, 4 ens. Crazy ja, maar hulle moes seker darem IETS doen om te wys hulle volg nie ALLES slaafs na van SA nie.

netekalleen ·

Ek dink hulle vlakke werk anders as ons sin. Hulle ersgte vlak is vlak 1 en 5 is die ligste een

Jaco ·

Jy sien!! Dis hoekom almal gister in n koop frenzy ingegaam het met die drank….netnou maar netnou beweeg ons weer op na n strenger vlak op kort kennisgewing. My spens byvoorbeeld lyk nou soos n bottelstoor. Het genoeg gekoop vir ten minste n jaar se gebruik. Ek raai mense sterk aan wat n drankie geniet om dieselfde te doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.