Covid-19: Unicef bekommerd oor kinders in aanhouding

Foto: Unicef

Honderde duisende kinders wat tans wêreldwyd in aanhouding is, staan ʼn groot risiko om met Covid-19 besmet te word en moet vrygelaat word, het die Verenigde Nasies (VN) se kinderfonds (Unicef) Maandag gesê.

“Talle word in klein en oorvol ruimtes aangehou sonder behoorlike toegang tot voeding, gesondheidsorg en higiëne; toestande wat die verspreiding van Covid-19 kan bevorder. ʼn Uitbreking in een van dié fasiliteite kan enige oomblik gebeur,” het die agentskap in ʼn verklaring gesê.

Volgens die organisasie is kinders in aanhouding ook meer kwesbaar tot verwaarlosing, mishandeling en geslagsgebaseerde geweld, veral as personeel of sorg negatief geraak word deur die pandemie.

Unicef het gesê kinders word wêreldwyd in jeugtronke aangehou, insluitend immigrasieaanhoudingsentrums, of word aangehou tydens gewapende konflik, nasionale sekuriteit of aktivisme, of bly saam met ouers in aanhouding. Dié kinders en diegene met onderliggende fisiese en sielkundige toestande wat moontlik met die virus besmet kan word, moet vrygelaat word, het die organisasie bygevoeg.

“Ons doen ʼn beroep op regerings en ander aanhoudingsowerhede om dringend alle kinders vry te laat wat veilig na hul families of ʼn behoorlike alternatief kan terugkeer. Dié alternatiewe sluit uitgebreide families of familie- of gemeenskapsgebaseerde sorg in.”

Unicef versoek ook ʼn onmiddellike moratorium op nuwe toelatings van kinders in aanhoudingfasiliteite.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.