Cristiano Ronaldo hof toe oor bewerings van verkragting

Cristiano Ronaldo. Foto: Facebook via Cristiano Ronaldo (amptelike Facebook-blad)

Die wêreldbekende sokkerster, Cristiano Ronaldo, is van plan om regstappe te doen teen ʼn Duitse tydskrif wat ʼn berig gepubliseer het waarin ʼn Amerikaanse vrou beweer Ronaldo het haar in 2009 verkrag en sy is daarna betaal om stil te bly oor die voorval.

Der Spiegel het berig Kathryn Mayorga (34) beweer sy is een aand in 2009 in ʼn hotelkamer in Las Vegas deur die Portugese sokkerspeler verkrag. Sy beweer sy het kort ná die voorval ʼn klag by die polisie ingedien.

Volgens die berig het Mayorga in 2010 egter buite die hof ʼn skikkingsooreenkoms met Ronaldo bereik waardeur sy $375 000 (sowat R5,2 miljoen) betaal is om nooit die bewerings in die openbaar aan die lig te bring nie.

Der Spiegel berig Mayorga beweer sy het dié ooreenkoms destyds onderteken omdat sy vir haarself en haar familie gevrees het en gehoop het dit sal haar help om die beproewing agter haar te sit.

Die berig beweer Mayorga het egter besluit om nou die bewerings aan die lig te bring en wil die hof nader om die geheimhoudingsooreenkoms ter syde te laat stel. Mayorga se regsverteenwoordiger glo die ooreenkoms wat sy onderteken het, kan nie wetlik bindend wees nie en sê dat sy nege jaar later steeds gebuk gaan onder die trauma van die beweerde verkragting.

Cristiano Ronaldo tydens ʼn wedstryd tussen Frosinone en Juventus by die Benito Stirpe-stadion in Frosinone, Italië (23 September 2018). Foto: Federico Proietti/ANSA via AP

Ronaldo voer aan die bewerings teen hom is absolute bog en sê Mayorga, wat voorheen ʼn model was, gebruik sy naam om haarself te bemark. Hy het die bewerings as “fopnuus” bestempel.

Christian Schertz, Ronaldo se prokureur, het in ʼn verklaring gesê die berigte in Der Spiegel is “blatant onwettig”. Hy het bygevoeg hy is opdrag gegee om vir morele skadevergoeding te dagvaar oor “waarskynlik een van die ernstigste oortredings van persoonlike regte die afgelope paar jaar”.

Metro berig Alfred Weinzierl, redakteur van Der Spiegel, het gesê hulle het aan Ronaldo se bestuurspan en regsverteenwoordigers geskryf voordat die bewerings gepubliseer is om sy kommentaar daarop te kry, maar het nooit enige terugvoer ontvang nie.

Ronaldo se 23-jarige modelmeisie, Georgina Rodriguez, het intussen op Instagram laat blyk dat sy steeds haar kêrel ondersteun ondanks die bewerings teen hom. Rodriguez het Sondag ʼn foto van haarself by ʼn stadion in Italië gedeel waarin sy skryf: “Jy transformeer altyd enige hindernisse wat op jou pad kom na impuls en krag om te wys hoe wonderlik jy is. Dankie dat jy ons elke wedstryd laat geniet. Altyd meer en beter. Ek is lief vir jou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ZAR ·

In die toekoms sal elke man eers ‘n video opname moet maak waar die vrou erken dat sy instem. Eintlik is dit goeie publisiteit vir “wag tot jy getroud is”

Stem saam ·

Ek stem saam, wag tot jy getroud is. Maar wat mens se verstand te bowe gaan is dat daar steeds uit huwelike ook verkragting sake kom. Als in die wereld raak so deurmekaar.

emily ·

Wat het sy in sy hotel kamer gesoek. Baie van die poppies jag agter bekendes aan, en kry hulle nie hul sin nie, dan volg allerhande klagte.

Jana ·

So sy het die geld gevat wat uitbetaal is om haar stil te hou, dit gespandeer. Maar nou na al die tyd vrees sy nie meer vir haarself of haar familie nie en nou kom sy uit met die hele storie? Klink soos afpersing.

Mrs H ·

Tien teen een n fortuinsoekertjie wat haar “vroue regte” misbruik. Hoop die regstelsel maak van haar só n voorbeeld, dat enigge vroumens baie mooi twee keer dink, voor sy n man onverdiend, verontwaardig en ontneem van alles.

GM ·

Ek neem aan die geldjies is nou op…
Dit was my eerste gedagte gewees. En dit is vreeslik, want daar is so baie vroue wat verkrag word, en dan word hulle nie geglo nie juis as gevolg van vroue wat kanse vat en vals beskuldigings rondslinger.
In dié geval, kan ek net nie dink dat ‘n vrou, met onskuldige intensies, na ‘n man se hotelkamer gaan nie. En dis belaglik om die slagoffer te probeer speel nadat jy klaar geld aanvaar het.

Pop ·

Jana dis presies wat ek wou se. Ek hoop die man gaan voort en dagvaar die hel uit hulle uit.

Rondslaap.... ·

Minder rondslaap….
Leef reg.
Bly weg van vrouens wat hul lyf op skinkborde aanbied.
Bly weg van mans wat jou net as stuk vleis sien.
Wag vir jou lewensmaat

Stuiwer ·

Ek weet nie wie om te glo nie. Ek hou die saak met afwagting dop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.