Da Silva gee homself oor aan polisie

Luiz Inácio Lula da Silva (Foto: AP Photo/Nelson Antoine)

Luiz Inácio Lula da Silva, voormalige president van Brasilië, het homself aan die polisie oorhandig om gevangenisstraf van 12 jaar vir omkopery uit te dien.

Dié nuus, wat waarskynlik die einde van sy hoop op presidentskap beteken, kom nadat Da Silva ʼn hofbevel verontagsaam het om homself Vrydag aan die polisie te oor te gee. Die oudpresident het gaan skuil in die hoofkwartier van die staalwerkers-unie in São Paulo. Die hoofkwartier was tot en met sy oorhandiging omring deur honderde vurige ondersteuners en die polisie het voorspel dat die oudpresident homself eers Sondag aan die owerhede sal oorgee.

Gleisi Hoffmann, leier van die werkersparty, het vroeër gesê Da Silva beoog om deur die loop van Saterdag eers aan ʼn mis deel te neem om die verjaardag van sy oorlede vrou, Marisa, te gedenk.

Luidens die BBC is DA Silva vroeg Sondagoggend by die hoofkwartier van die staalwerkers-unie in hegtenis geneem. Daar was ʼn sterk polisieteenwoordigheid. Duisende ondersteuners buite die hoofkwartier moes deur die polisie beheer word omdat vrees bestaan het dat geweld sou uitbreek. Ten spyte van aanklagte teen hom het die oudpresident steeds ʼn groot aanhang onder Brasiliane.

Volgens The Independent is agt mense beseer toe die polisie traangas moes gebruik om ʼn oproerige skare onder bedwang te bring nadat Da Silva in ʼn polisiehelikopter gelaai is.

Da Silva hou steeds vol dat hy onskuldig is, maar hy het gesê dat hy in die tussentyd die hofbevel sal nakom. Hy is sedert 2010 nié meer die president van Brasilië nie. Da Silva word steeds gereken as een van dié land se gewildste presidente en was in Oktober verlede jaar die voorloper in die presidensiële verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christa J ·

Kon mens dit maar van n sekere eks-president van n sekere politieke party verwag het …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.