Da Silva gee homself toe nié oor aan polisie

Luiz Inácio Lula da Silva (Foto: AP Photo/Nelson Antoine)

Luiz Inácio Lula da Silva, voormalige president van Brasilië, het ʼn hofbevel verontagsaam om homself Vrydag aan die polisie te oor te gee om gevangenisstraf van 12 jaar vir omkopery uit te dien – ʼn vonnis wat die einde van sy hoop op presidentskap beteken.

The Guardian berig Da Silva het gaan skuil in die hoofkwartier van die staalwerkers-unie in São Paulo. Die hoofkwartier word steeds omring deur honderde vurige ondersteuners en die polisie voorspel dat die oudpresident homself eers Sondag aan die owerhede sal oorgee.

Volgens ʼn anonieme bron na aan Da Silva sal onderhandelinge tussen die polisie en die oudpresident voortduur totdat daar eenparigheid oor sy inhegtenisneming bereik word. Da Silva het glo gesê hy weier om homself voor Saterdagaand oor te gee ten spyte van die hofbevel teen hom.

Gleisi Hoffmann, leier van die werkersparty, het gesê Da Silva beoog om deur die loop van Saterdag eers aan ʼn mis deel te neem om die verjaardag van sy oorlede vrou, Marisa, te gedenk.

Hofmann het ontken dat hy sy oor sy inhegtenisneming met owerhede onderhandel.

Polisieowerhede in São Paulo het Saterdagoggend vroeg gesê dat hulle Da Silva met geweld in hegtenis sal neem indien hy homself nie oorgee nie. Só ʼn inhegtenisneming kan egter tot geweld lei aangesien Da Silva steeds ʼn groot aanhang het ten spyte van die aanklagte wat teen hom gemaak is.

Da Silva se regspan het vroeër gesê die oudpresident het homself nie oorgegee nie omdat hy aansoek gedoen het by die VN se menseregtekommissie om sy inhegtenisneming tydelik uit te stel aangesien hy van mening is dat daar vooroordeel in sy hofsaak betrokke was.

Hy is sedert 2010 nié meer die president van Brasilië nie. Da Silva word steeds gereken as een van dié land se gewildste presidente.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.