Dagvaarding op prins Andrew bestel oor seksuele aanranding

Brittanje se prins Andrew, hertog van York tydens sy pa, prins Philip, se begrafnis (17 April 2021) (Foto: Chris Jackson/Pool/AFP)

ʼn Dagvaarding is op Brittanje se prins Andrew bestel in ʼn Amerikaanse hofsaak deur ʼn vrou wat sê hy het haar seksueel mishandel toe sy ʼn tiener was.

Die klag is op 27 Augustus by sy huis in Windsor, Engeland, aan hom oorhandig, volgens ʼn beëdigde verklaring wat in die suidelike distrik van New York ingedien is.

Virginia Giuffre sê sy is “uitgeleen” vir minderjarige seks deur wyle Amerikaanse finansier Jeffrey Epstein. Hy het in 2019 in ʼn tronk in New York sy eie lewe geneem terwyl hy verhoorafwagtend was op aanklagte van mensehandel.

Giuffre het Andrew verlede maand gedagvaar en voer aan hy het haar 20 jaar gelede, toe sy jonger as 18 jaar was, seksueel mishandel by sosiale vlinder Ghislaine Maxwell se huis in Londen.

Giuffre voer aan Andrew het haar ook by Epstein se huis in New York en op Little St. James, Epstein se privaat eiland in die Amerikaanse Maagde-eilande, mishandel.

Ghislaine Maxwell (links) en Jeffrey Epstein (regs). (Foto’s: Laura Cavanaugh/Handout/ verskeie bronne/AFP)

Andrew (61) ontken ten sterkste bewerings dat hy omgang gehad het met Giuffre en sê hy kan glad nie onthou dat hy haar ooit ontmoet het nie. Die gerugte het egter die Britse koninklike gesin geskud.

ʼn Agent vir Giuffre het in die verklaring gesê hy het die dokumente aan ʼn polisiebeampte by die hoofhek van Andrew se eiendom oorhandig. Hy het nie persoonlik koningin Elizabeth II se tweede seun gesien nie.

ʼn Woordvoerder vir prins Andrew het geweier om kommentaar te lewer toe AFP dit versoek het.

Andrew, ʼn geskeide pa van twee en voormalige helikoptervlieënier vir die koninklike vloot, het laat in 2019 teruggetree van enige koninklike pligte. Dit het gevolg ná ʼn seldsame televisie-onderhoud met die BBC waar hy sy vriendskap met Epstein verdedig het.

Maxwell het in April skuld ontken op aanklagte dat sy minderjarige meisies vir Epstein gereël het. Haar hofsaak hervat op 29 November.

Giuffre dagvaar Andrew kragtens die Wet op Kinderslagoffers, omdat sy 17 jaar oud was ten tyde van die beweerde voorval. Die eerste verhoor in die saak sal na verwagting Maandag plaasvind.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

MakersMark ·

Ja hy sal maar moet verduidelik, of hom uit die moeilikheid probeer uitlieg.

melW ·

Mooi so! Net omdat hy ń prins is is hy nie verhewe bo die gereg nie. Geraamtes in ń kas kom een of ander tyd uit.

Peach ·

Môre my mede Maroelanders, ek praat geen misdaad goed maar, menige mans se lewens is al onherroeplik verwoes deur soortgelyke aantuigings so, voor ons die kleed as Regter aantrek, laat ons eers wag tot ons oor die feite beskik voor ons Andrew, of andere in soortgelyke posisies steenig. Indien die feite teen hom swaarder as sy weergawe weeg, sal ek die eerste een wees wie vir geregtigheid sal veg.

Antoinette ·

Ek stem gedeeltelik saam. Aantygings soos die en so lank na die tyd verstom my altyd. Na die eerste keer kon sy mos geweier het? Is sy ontvoer, vasgebind, gedreig of wat?
Dit laat my nogal dink aan al die aantygings teen die filmster Armie Hammer. Die vroumense, meesal jong meisies klnk dit vir my, het blykbaar keer op keer saam met hom gewillig bed toe gegaan. Dit klink meer vir my of hulle belangrik gevoel het om saam met ‘n prins of filmster te slaap en nou geleentheid sien om vinnig ryk te word. As ‘n vrou of meisiekind gewillig saam met ‘n man kamer toe gaan – en veral ‘n getroude man – moet hulle nie later huil nie.
Ek praat niks goed nie, maar soos my dogter altyd se. Daar is 2 kante in ‘n saak, en die waarheid le in die middel.

Zombie ·

As jy die psigodinamika van die gereedmaking (groomings) van slagoffers en die onthullingsproses van seksuele mishandeling bestudeer, sal jy minder verstom wees. Ek is weer verstom dat die slagoffers baie keer die skuld kry.
Ek sal maar gaan oplees oor die psigodinamika van volwassenes wat so opkom vir die beweerde seksoortreder. Miskien is ek ook dan minder verstom.

Zombie ·

Hoe beplan jy om vir geregtigheid te veg, indien dit nodig sou wees? Jou geregtigheidvegsplan kan moontlik aangewend word om die groot aantal kinderslagoffers van seksuele mishandeling in ons eie land te help.

Peach ·

Zombie, duidelik leef jy in ‘n ideale wêreld waar geen onwaarhede bestaan nie. Al gehoor van “character association”? Antoinette se kommentaar is meer realisties en in lyn met die kultuur van finansiële vergryping….. kyk bv die man wie na jare die groep Nivara dagvaar vir ‘n foto waarvoor sy ouers toestemming gegee en betaal is.

miavos ·

In alle liefde, skrywer van die artikel, prins Andrew het die tiener nie seksueel mishandel nie (abused) maar wel seksueel misbruik. Dis ewe erg, maar tog.

Zombie ·

In alle liefde, miavos die begrip “sexual abuse” is ń standaard- en wetlike begrip wat alle seksuele misdade teen kinders omsluit. Dit is ń erkende begrip en verskillende lande, ook in Suid-Afrika. Die artikelskrywer is dus korrek en jy is, in alle liefde, verkeerd.

Debbie ·

Kan net nooit verstaan waarom wag vrouens jare voor hul n man beskuldig van dinge nie.

Niklaas ·

Daar is mos heelwat geld ter sprake hierdie jaar. En beslis sal daar ‘n regsverteenwoordiger of adviseur ook op die toneel wees, wat saam gaan skep.

Eidel ·

Ek is ‘n voorstander dat elke misdadiger gestaf moet word ongeag wie dit is. Maar hoekom soveel jare wag voor die aanklag ingesien was. Ek verstaan as 17 jarige maar daar moet ook perke wees. Elkeen kan dan ‘n saak oopmaak en vingers wys wat moontlik nooit eers gebeur het nie. In sy geval is daar ‘n stert wat hom volg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.