Dakar geruk deur jaer se dood

Paulo Gonçalves. Foto: (AP Photo/Martin Mejia, File)

Die Dakar-veteraan Paulo Gonçalves van Portugal is Sondag tydens die Dakar-veldtydren in Saoedi-Arabië dood.

Die 40-jarige Gonçalves het halfpad deur sneltrajek 7 geval en is noodlottig beseer. Toby Price van Australië en Argentinië se Kevin Benavides het albei stilgehou om te help.

Volgens die organiseerders het ʼn lugambulans sowat agt minute later op die toneel geland. Gonçalves is na die nabygeleë Layla-hospitaal vervoer waar hy met sy aankoms dood verklaar is.

“Die Dakar rou oor Paulo Gonçalves, een van die mees ervare en geliefde kampioene van die veldtydren-familie,” het die Dakar op sy webwerf gesê. Gonçalves het aan sy 13de Dakar deelgeneem. Hy was die naaswenner in 2015.

Gonçalves se motorfiets lê op die grond na die noodlottige ongeluk. Foto: (AP Photo/Bernat Armangue)

Maandag se agtste sneltrajek vir motorfiets- en vierwielmotorfietsryers is intussen gekanselleer.

Carlos Sainz het gister se sneltrajek 7 in sy Mini gewen. Nasser Al-Attoyah was tweede en Stephane Peterhansel derde.

Bernhard ten Brinke was vierde, Yazeed Al-Rajhi vyfde, Fernando Alonso sesde en Suid-Afrika se Giniel de Villiers sewende.

In die motorfiets-afdeling het Benavides gewen nadat sy tyd aangepas is omdat hy by Gonçalves gewaak het ná sy ongeluk. Joan Berrada was tweede en Matthias Walkner het derde geëindig.

Maandag se roete is 477 km. Die wedren eindig Vrydag.

  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op hoogte van wat by die Dakar-wedren gebeur en hoe dit met deelnemers van Suider Afrika gaan. Luister na die klankinsetsel bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Daan Erasmus ·

Maandag se roete is 477 km. Dit is ongelooflik. Dink aan watter familie is 477 km ver. Ry nou in die veld daarheen, nie grondpad nie. Deur die veld. Daar is niks soos die Dakar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.