Dalk 20 jaar tronkstraf vir YouTuber wat vliegtuig laat val

Trevor Jacob (Foto: Skermgreep uit die video)

ʼn YouTuber-vlieënier wat in die middel van sy vlug uit die vliegtuig gespring en doelbewus sy vliegtuig laat neerstort het in ʼn poging om kykergetalle op sy kanaal op te stoot, kan tot 20 jaar tronkstraf gevonnis word, het Amerikaanse owerhede Donderdag gesê.

In ʼn video wat al deur meer as 3 miljoen mense gekyk is, lyk dit of Trevor Jacob enjinprobleme ondervind terwyl hy oor suidelike Kalifornië gevlieg het in November 2021.

Die dramatiese beeldmateriaal wys hoe die 29-jarige Jacob uit die enkelenjinvliegtuig spring – met sy selfiestok byderhand. Hy het met ʼn valskerm in digte bosse in die Los Padres- nasionale woud geland.

Kameras was oral oor die vliegtuig gemonteer en wys hoe die vliegtuig buite beheer in die woud neerstort.

Jacob het homself verfilm waar hy eers na die wrak stap en blyk teleurgesteld te wees toe hy ontdek dat die water wat hy in die vliegtuig gehad het, verdwyn het.

Kykers sien dan hoe hy deur die bosse en oor heuwels stap om skynbaar hulp te soek met gereelde terugvoer oor hoe moeg en dors hy is en dat hy verdwaal is.

Teen skemer kom hy uiteindelik by ʼn stroom aan en oomblikke later kan hy ʼn voertuig voorkeer.

In die weke ná die voorval het beamptes van die nasionale vervoerveiligheidsraad en die Federale Lugvaartadministrasie (FAA) ʼn ondersoek na die ongeluk van stapel gestuur. Jacob is beveel om die wrak van die vliegtuig te bewaar.

Die YouTuber het aan beamptes gesê hy weet nie waar die vliegtuig neergestort het nie, maar volgens ʼn pleitooreenkoms in Los Angeles, twee weke ná die drama, het hy en ʼn vriend die vliegtuig met ʼn helikopter uit die woud verwyder. Hy kon glo vroeër data van die kameras aan boord bekom.

Oor die volgende paar dae het hy die vliegtuig in klein stukkies opgesny en in asblikke in en rondom Lompoc-lughawe van die dele ontslae geraak.

Die FAA het Jacob se vlieglisensie in April 2022 teruggetrek.

Jacob het in ʼn pleitooreenkoms erken dat hy probeer het om federale owerhede se ondersoek in die wiele te ry toe hy van die wrak ontslae geraak het. Hy het ook erken hy het die video geskep om geld te maak deur ʼn borgskap met ʼn maatskappy aan te gaan.

“Jacob het verder erken dat hy bedrieglik was in ʼn verslag oor die ongeluk aan federale ondersoekbeamptes toe hy valslik aangedui het dat die vliegtuig sowat 35 minute ná hy opgestyg het, probleme ondervind het,” lui ʼn verklaring van die departement van justisie.

“Jacob het ook gejok toe hy aan ʼn FAA-veiligheidsinspekteur gesê het die vliegtuig se enjin het onklaar geraak en omdat hy nie enige veilige landingsplekke kon identifiseer nie, het hy met ʼn valskerm uit die vliegtuig gespring.”

Hy het ingestem om skuld te beken op een aanklag van dwarsboming van die gereg met die doel om ʼn federale ondersoek te ondermyn. Dié oortreding het ʼn statutêre maksimum vonnis van 20 jaar in federale gevangenis.

Die YouTuber sal na verwagting binne die volgende paar weke sy bekenning formeel in Los Angeles indien en sal later gevonnis word.

Die 12 minuut lange video, wat hy op 24 Desember 2021 op YouTube gedeel het, het in die weke en maande ná die gepubliseer is, baie kritiek uitgelok.

Verskeie vlieëniers en lugvaartkenners het gesê Jacob het versuim om eenvoudige stappe te doen om te poog om die enjin weer aan die gang te kry. Ander het daarop gewys dat hy maklik die vliegtuig na ʼn landingsplek sou kon laat sweef en dat dit hoogs ongewoon is om ʼn valskerm by jou te hê wanneer mens met ʼn klein vliegtuig vlieg.

Waarskuwing: Die video bevat kragwoorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.