Dalk genoeg entstof vir ebola teen einde van die jaar

Dokters Sonder Grense verwyder 'n persoon se liggaam in Guinee wat weens die ebola-virus gesterf het Foto: thewestsidestory.net

Dokters Sonder Grense verwyder ‘n persoon se liggaam in Guinee wat weens die ebola-virus gesterf het Foto: thewestsidestory.net

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê volgens projeksies kan daar moontlik teen die einde van die jaar voldoende entstof teen ebola wees om die siek pasiënte in Wes-Afrika te behandel.

Die berigte hieroor is egter teenstrydig, en die meer geloofwaardige weergawe is dat die toetse op twee eksperimentele teenmiddels teen November afgehandel kan wees sodat genoeg voorraad teen die einde van die jaar vervaardig kan wees om die gesondheidswerkers daarmee te behandel. Dit lyk of ’n internasionale nuusagentskap hierdie inligting verkeerd vertolk het en ’n wanvoorstelling die wêreld ingestuur het.

Volgens die jongste inligting is 2 917 mense in Wes-Afrika reeds aan die jongste ebola-pandemie dood, terwyl 6 263 mense siek is. Die aantal sterftes is byna 300 meer as ’n week gelede.

Intussen verskil bronne of die onverwante ebola-uitbreking in die DRK onder beheer is of nie. Die siekte daar word aan ‘n ander stam van die virus toegeskryf.

Die vinnige tempo waarteen die virus in Wes-Afrika muteer, skep egter verskeie kopsorge. Indien die mutasies groot genoeg is, kan dit die entstowwe minder effektief maak nog voor dit behoorlik beskikbaar is. Van die voorste navorsers wat aan die serum werk, het gesê die veiligste bekamping van die siekte is om dit te isoleer en te laat “uitsterf”.

’n Groot probleem is dat veral sekere stamme in Wes-Afrika ’n lang tradisie van migrasie het. Sowat 9 miljoen Wes-Afrikane, of te wel ongeveer 2% van die bevolking, word as migrante beskou. Daarby kom groot getalle individuele migrante voor wat byvoorbeeld agter werk aan trek. Die migrasie vind dikwels oor landsgrense plaas, maar soms ook binne die lande self.

Hoewel Europese lande om politiek-korrekte redes hul inoefeninge vir die ontruiming en ontvangs van siekes verduidelik aan die hand van hul eiegesondheidswerkers in Wes-Afrika wat siek word, is dit ’n ope geheim dat ook voorsien word dat die migrasie noordwaarts, en uiteindelik oor die Middellandse See, die siekte deur migrante na Europa kan bring.

Om siek mense te isoleer word dikwels met groot wantroue begroet, en vererger deur talle bygelowe. Baie van die stamme glo nie ebola bestaan werklik nie, en nooddienswerkers is al vermoor of erg beseer deur ontevrede stamme. In een geval is die lyke van agt vermoorde nooddienswerkers in ’n puttoilet gekry. Dit is daarom ook moeilik om stamme te laat afsien daarvan om een van die verdagtes vir die verspreiding van die siekte, vlermuise, te slag en te eet.

Hoewel die navorsers die kanse gering skat dat die ebola-virus kan muteer om op ‘n ander manier as regstreekse kontak te versprei, deur byvoorbeeld lugoordraagbaar te wees, word die moontlikheid nie uitgesluit nie. Hulle voel egter dit is belangriker om siek mense in isolasie te plaas en die huidige verspreiding só te stuit. Die VSA en verskeie Wes-Europese lande het reeds beloof om ’n groot hoeveelheid mobiele geriewe as isolasiefasiliteite beskikbaar te stel.

Lees meer: Trouw, StarTribune , Internasionale Migrasie-organisasie en CBS News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.