Dalk skietstilstand vandag in Oekraïne

Pres. Petro Porosjenko. Foto: Петро Порошенко/Facebook

Pres. Petro Porosjenko. Foto: Петро Порошенко/Facebook

Pres. Petra Porosjenko van Oekraïne het aangekondig dat hy, onderhewig aan ʼn stel gebeure wat moet plaasvind, van 14:00 vandag af ʼn skietstilstand in sy land gaan afkondig.

Die vernaamste rebelleleiers het aangekondig dat hulle ʼn uur later sal volg, ook onderhewig aan sekere voorwaardes.

Beide se stel voorwaardes hou verband met ʼn beoogde vergadering in Minsk, hoofstad van Wit-Rusland vandag. Benewens die strydende partye, sal ook Rusland en die Europese veiligheidswaghond, OSCE, deelneem. Beide partye verlang dat oor die implementering van ʼn vredesproses ooreengekom word.
Rusland, wat vroeër ʼn aankondiging van Porosjenko ontken het dat op ʼn vroeëre skietstaking ooreengekom is, gebruik die term “de-eskalering van vyandighede.”

ʼn Groot vlieg in die salf is Rusland se volgehoue ontkenning dat hy in die konflik betrokke is, terwyl Navo dit duidelik stel dat Rusland nie net “duisende” soldate in Oekraïne het nie, maar ruim wapens voorsien en ook ʼn beduidende militêre teenwoordigheid op die grens het. Volgens Oekraïne en Navo is dit juis hierdie Russiese betrokkenheid wat die skaal onlangs in die guns van die rebelle geswaai het (lees meer hier).

Intussen is Porosjenko genooi om die Navo-beraad by te woon wat gister begin het, en vandag eindig, en Oekraïne was hoog op die agenda. Trouens, reeds voor die beraad begin het, is reeds belangrike uitsprake oor Navo se steun aan Oekraïne gemaak.

Die swaar voetval van die Russiese beer in Oekraïne oorheers vandag die wêreldmedia in sy beriggewing oor Navo se krities-belangrike beraad in Newport, Wallis. Beriggewing oor die moontlike skietstilstand vandag word byna volkome verdring. Ander sake is egter op die agenda, soos die afsluiting van Navo se rol in Afganistan, terrorisme en kubermisdaad.

Navo was die afgelope aantal jare gereeld buite sy eie gebied betrokke, byvoorbeeld in Kosovo, Afganistan en Libië. Weens die “beëindiging” van die koue oorlog het lidlande hul verdedigingsbegrotings begin inkort, en dit het die VSA wat die balans gedra het, langlippie gelaat. Die VSA spandeer reeds twee persent van sy BNP op verdediging.

Die verwikkelinge in Oekraïne het egter die fokus laat skuif na Navo se oostelike buurstate, veral voormalige Sowjet-republieke, wat ook beduidende Russiese minderhede het. Pres. Barack Obama het juis kort voor die Navo-beraad ʼn besoek aan Estland gebring, waar ongeveer ʼn derde van die inwoners etniese Russe is. Estland is bekommerd dat Rusland ʼn soortgelyke aksie as in Oekraïne op sy grondgebied kan uitoefen, en Obama het ʼn uitgebreide Navo-verteenwoordiging beloof, asook ʼn snel-reaksiemag.

Rusland, op sy beurt, dreig om oor die vooruitsigte van vergrote Navo-magte digby sy grense vir Navo die status van “teenstander” te gee.
Ingevolge die stigtingooreenkoms van Navo sou Rusland en Navo nie formeel teenstanders wees nie. Rusland beskou die jongste verwikkelinge as ʼn skending van die stigtingsakte. Die Oos-Europese lidlande dring egter op groter waarborge van Navo aan.

Intussen het ʼn toutrekkery binne Navo ontstaan oor of Oekraïne lid van Navo kan word. Die vraag het aktueel geword toe daar sulke sprake uit Oekraïne begin kom het. Tot onlangs het Oekraïne dit weens komplekse binnelandse sentimente hieroor nie oorweeg nie. Die sekretaris-generaal van Navo, Fogh Rasmussen, het positief gereageer, maar politici wat ʼn regstreekse militêre konfrontasie met Rusland vrees, het dit as onverantwoordelik en ongemagtig beskryf. Boonop word steeds sommetjies gemaak oor hoeveel die weste se sanksies teen Rusland, en Rusland se weerwraak-sanksies Europa gaan kos.

Sommige waarnemers beskryf die stryd wat hom nou tussen Rusland en Navo afspeel as ʼn skaakspel. Rusland het byvoorbeeld enkele dae gelede oefeninge van sy kernarsenaal aangekondig. ʼn Verkeerde skuif kan Rusland en Navo in ʼn gewapende konflik teen mekaar te staan laat kom, en hiervoor sien veral die Wes-Europese lande nie kans nie. Tog het Nederland reeds aangedui dat hy sy verdedigingsbegroting gaan uitbrei.

Die Christian Science Monitor se opskrif lui: “Are NATO and Russia setting the fuse for a hot war?”. Die artikel self is egter ‘n uitstekende ontleding van Poetin se strategie om etniese Russe elders (compatriots) in te span vir magsuitbreiding – ‘n strategie waarop Navo met groot behoedsaamheid moet optree om dit te stuit sonder om ‘n oorlog te ontketen.

Intussen is die internasionale media betreklik stil oor die jongste verwikkelinge in Oekraïne self nadat daar gister ʼn deurmekaarspul was oor die moontlikheid dat die oorlog beëindig kan word. Talle wêreldmarke, onder andere dié van Suid-Afrika, het egter positief op die verwikkelinge gereageer. ʼn Eskalasie van die konflik sal bitter slegte nuus wees.

Intussen is die oë van die wêreld op Newport, en wat daar besluit word kan die wêreld skaakspel nuwe momentum bied.

Ander artikels in Trouw kan hier, hier en hier gelees word.

‘n Artikel in die Chistian Science Monitor hier bied waardevolle insigte.

Die Duitse artikel in Focus hier kan met vrug gelees word.

De Standaard berig hier oor die jongste verwikkelinge by die Navo-beraad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.