Daniil verloor; Novak weer wêreld se no. 1

Daniil Medvedev en Novak Djokovic. Foto: Christophe Archambault/AFP.

Novak Djokovic sal volgende Maandag weer die wêreld se voorste manstennisspeler wees nadat Daniil Medvedev teen Gael Monfils in Kalifornië kleigetrap het.

Die jong Rus het op 28 Februarie vir Djokovic op die ATP-ranglys onttroon. Dit was die eerste keer in 18 jaar dat nóg die Serwiese ster nóg Rafael Nadal, Roger Federer of Andy Murray die wêreld se no. 1-speler is.

Tog is die Medvedev-era spoedig kortgeknip toe Monfils hom met 4-6, 6-3 en 6-1 in die Indian Wells-toernooi ore aangesit het.

“Wanneer ek op my beste is, is dit werklik moeilik om my te klop. Dit is egter ook een van die sport se taaiste uitdagings – die vermoë om weekliks op só ’n hoë vlak te speel,” het Medvedev gesê.

Hy was ook vol lof vir Djokovic, Rafael Nadal en Roger Federer; die “Groot Drie” van wêreldtennis.

“Dit is juis wat van hulle sulke ongelooflike spelers maak: Maak nie saak wat die omstandighede mag wees of hoe die baanoppervlak mag lyk nie; hulle hou net aan om toernooie te wen. Ek sal moet begin beter speel.”

Medvedev kon nog nooit in vyf probeerslae verder as die kwarteindstryd van die Indian Wells-toernooi vorder nie.

Op sy beurt is Monfils in sy noppies met sy spel.

Die 35-jarige Fransman speel steeds met die energie van ’n veel jonger speler en hy het sy Russiese teenstander veral in die tweede en derde stel laat bontstaan.

“Ek speel deesdae goeie tennis. Ek beweeg flink op die baan en ek is baie tevrede met my houespel. Dit is altyd spesiaal om sterk teen die wêreld se no. 1-speler te vertoon,” het Monfils gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanEtz ·

Was dit nie vir die pandemie grap van die eeu nie, sou Novak moeilik onttroon word……

Treurwilger ·

Novak weer waar hy hoort ;-)
Mag Covid-waansin binnekort end kry.
Voel jammer vir Medvedev in die heersende anti-Rusland klimaat. Dit kan nie maklik wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.