Dankie vir die musiek, ABBA!

ABBA sal in ‘n digitale konsertervaring te sien wees. (Foto: ABBA Voyage/Facebook)

Aanhangers van die supergroep ABBA skud hulle vere reg vir die Sweedse popgroep se nuwe digitale konsertervaring vanuit Stratford in Londen, Engeland.

Aanhangers kon vroeg registreer vir kaartjies, wat reeds vandag (6 September) te koop is, terwyl algemene kaartjieverkope Dinsdag open.

Die konserte sal vanaf 27 Mei 2022 vir vier jaar plaasvind. Al vier lede van ABBA, Anni-Frid Lyngstad (75), Agnetha Faltskog (71), Bjorn Ulvaeus (76) en Benny Andersson (74), sal digitaal saam met ʼn 10-stuk-orkes te sien wees.

Volgens The Sun sal “ABBA-tars” van die sterre in die vertoning verskyn. Hulle sal treffers soos “Waterloo”, “Dancing Queen” en “Mamma Mia” sing.

Die hologramme sal glo van ʼn gebou in ʼn teater in die ooste van Londen af weerkaats word, waar aanhangers ook ʼn dokumentêrestyl-rolprent oor die groep se terugkeer sal kan sien.

Die verfilming vir die projek het glo reeds verlede jaar in Londen se Ealing-ateljees plaasgevind.

Die groep het verlede Donderdag wêreldwyd aangekondig dat die lede herenig het, tesame met twee nuwe enkelsnitte, konsertdatums en ʼn nuwe album wat op 5 November uitgereik word.

Die eerste twee enkelsnitte vanuit die nuwe album, “I still have faith in you” en “Don’t shut me down”, is die groep se jongste musiek in vier dekades en is met ope arms ontvang. Dié liedjies het reeds onderskeidelik 12 miljoen en 6,1 miljoen kykbeurte op YouTube gekry.

Die groep is duidelik net so opgewonde soos hulle aanhangers oor die hereniging.

“Die album is voltooi. Dit was 40 jaar, maar dit was asof geen tyd verloop het nie. Dit was nogal ongelooflik. Ons het dit so goed gedoen as wat ons enigsins op ons ouderdom kan,” het Andersson in ʼn onderhoud gesê.

Bronne: The Independent, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Joe Olivier ·

Ek wonder of hulle weer soos ouds hul anc terroriste tjommies uit hul finansieële verknorsing gaan red wanneer die miljoene gaan inrol.

Elmarie ·

Ai hoe het ons nie gedans op Dancing Queen en saamgesing met al die ander liedjies nie. Nee wat, ek het van ABBA gehou – soos meeste mense (selfs die wat dit nou nie wil erken nie ;D ), kan hul steeds luister! Maar ek moet giggel oor die foto: Benny lyk so moedeloos, die dames lyk of hul wil sê ons byt maar vas en Bjorn lyk of hy dik is van die lag – dalk oor die snaakse “duikpakke” wat hul aanhet?!

Jywilwat ·

Ons het grootgeword saam met ABBA. Verlang terug na daardie tyd.

Niklaas ·

Ek luister kortkort na ABBA se musiek tuis. Soos die Beatles en Neil Diamond . Tydloos. Mens raak nie moeg daarvoor nie. Wonder net hoe klink die stemme deesdae , want hul is goed oppad na die 80 jr mylpaal toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.