Debat bevestig noue fokus van VSA-verkiesing

Wanneer twee presidentskandidate oor buitelandse sake debatteer en byna op elke vraag dit regkry om oor die plaaslike ekonomie, onderwys, staatspandering en mediese voorsiening te praat wys dit wat die fokus van die verkiesing eintlik is.

Die derde en laaste debat tussen Barack Obama en Mitt Romney het vanoggend plaasgevind. Die debat het op buitelandse sake gefokus, maar keer op keer het die kandidate die debat na binnelandse sake en die ekonomie probeer swaai ten einde tot kiesers wie tans min oor buitelandse sake gepla is, te spreek.

In die voorafgaande twee verkiesings in 2004 en 2008 het buitelandse sake ‘n baie groot rol gespeel en was kwessies soos terrorisme en die oorloë in Irak en Afganistan die belangrikste sake vir baie kiesers. Vanjaar is die fokus van die verkiesing duidelik op die ekonomie. Mitt Romney kon die Obama-regering se omstrede hantering van die terroriste-aanval in Libië in ‘n belangriker deel van die verkiesing omskep, maar hy het verkies om Obama glad nie oor die saak aan te val nie. Die rede hiervoor is waarskynlik dat Romney die fokus van die debat op die ekonomie wil behou. Romney glo dat die relatief hoë werkloosheidskoers, swak ekonomiese groei en toenemende armoede in Amerika genoeg rede vir Amerikaners sal wees om Obama op 6 November as president uit te stem.

Die laaste debat van vanjaar se debatreeks sal nie onthou word vir die inhoud nie, maar eerder vir die twee kandidate se verskillende aanslag. Obama was aggressief en soms selfs oordrewe aanvallend. Romney was van die begin af daarop gefokus om konflik te vermy en sy fokus was eerder daarop om as ‘n geloofwaardige spreker oor internasionale sake oor te kom.

Obama het waarskynlik op inhoud gewen, maar Romney het as kalmer en meer geloofwaardig oorgekom. Obama se bedreiging in hierdie verkiesing is om as onbeskof en arrogant oor te kom en sy lyftaal en aanslag in hierdie debat het nie veel gehelp nie. Romney se bedreiging is om as onseker oor sy eie standpunte oor te kom en hy het hard probeer om homself duidelik te definieer. Obama se houding in die debat hou dus ernstige risiko’s vir hom in. In daardie opsig mag Romney dus selfs die debat gewen het, al het hy toegelaat dat Obama hom keer op keer ‘n bloedneus op moeilike vrae gegee het.

Selfs Suid-Afrika is genoem in ‘n vreemde opmerking van Romney dat die leier van Iran, Mahmoud Ahmadinejad, hanteer moet word soos wat die VSA-regering die Apartheid-regering hanteer het!

Die verkiesing vind vandag oor twee weke plaas en dit is na hierdie debat nog duideliker dat dit ‘n titaniese stryd tot op verkiesingsdag gaan wees. Die moontlikheid vir een van die kandidate om ‘n groot blaps te maak, lyk al hoe skraler en in ‘n verkiesing waar kiesers ‘n sterk fokus het en die kandidate se standpunte redelik uitgesorteer is verskuif die fokus toenemend na die veldtogte se vermoë om hul ondersteuners by die stembus te kry.

Klik hier om die vorige artikel te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.