Deense sokkerster nog in hospitaal ná hartstilstand op veld

Die Deense sokkerspeler Christian Eriksen kort nadat hy Saterdag op die veld inmekaargesak het. (Foto: Friedemann Vogel / various sources / AFP)

Die Deense sokkerspeler Christian Eriksen is opgewek en gretig om te hoor wat sy skielike hartstilstand Saterdag tydens sy land se Euro 2020-sokkerwedstryd teen Finland op die veld veroorsaak het.

“Ons het [Sondagoggend] gesels. Hy het grappe gemaak en was in goeie luim. Ek verneem dit gaan goed met hom,” het Eriksen se agent, Martin Schoots, Maandag aan die Italiaanse koerant Gazzetta dello Sport gesê.

“Ons wil almal uitvind wat gebeur het – hy ook. Die dokters doen omvattende toetse, maar dit sal tyd neem,” het Schoots gesê.

Maroela Media het vroeër berig Eriksen (29) het in die 43ste minuut van die wedstryd in Kopenhagen skielik ineengesak en roerloos bly lê terwyl paramedici kardiopulmonêre resussitasie toegepas het. Hy het sowat 15 minute lank bly lê voordat hy van die veld afgedra en na ʼn hospitaal geneem is.

Denemarke se spandokter het Sondag bevestig dat die Inter Milan-ster se hart op die veld gaan staan het. “Hy was weg en ons het resussitasie gedoen,” het dr. Morten Boesen tydens ʼn mediakonferensie verduidelik.

“Hoe naby was ons? Ek weet nie. Ons het hom teruggekry na een defibrillasie, so dit was redelik vinnig.”

Volgens Schoots sal Eriksen tot minstens Dinsdag in die hospitaal moet bly vir waarneming.

ʼn Woordvoerder van die Deense sokkerunie het intussen Eriksen se mediese toestand as bestendig bestempel.

“Hy is steeds in die hospitaal en daar word deur die loop van die dag toetse gedoen,” het die woordvoerder gesê.

Eriksen se vrou en ouers is by hom in die hospitaal terwyl hy oorval word met ondersteuning van regoor die wêreld.

“Die helfte van die planeet het ons al gekontak. Almal is bekommerd,” sê sy agent.

“Nou moet hy eenvoudig rus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chantel ·

Hmmm, fikse sterre se harte gaan staan ook, vele redes en vele opinies. Sal graag wil weet wat die oorsaak was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.