Deense sokkerster ontslaan na ‘suksesvolle operasie’  

Christian Eriksen. (Foto: AFP/ RITZAU/DBU)

Christian Eriksen is uit die hospitaal ontslaan nadat hy ʼn suksesvolle operasie ondergaan het.

Die 29-jarige Inter Milan-ster het Saterdag ʼn hartstilstand gehad tydens sy land se Euro 2020-sokkerwedstryd teen Finland en hy het op die veld inmekaargesak.

Dokters het vroeër gesê Eriksen sal ʼn hartdefibrillator-inplanting ondergaan om sy hartritme te reguleer, wat twyfel laat ontstaan het of hy weer sal kan speel.

“Die operasie het goed afgeloop, en dit gaan onder die omstandighede goed met my,” het Eriksen in ʼn verklaring gesê.

Eriksen kon sy spanmaats by hul oefenbasis in Helsingor, noord van die Deense hoofstad, besoek. Hy sal nou terugkeer huis toe om tyd saam met sy gesin deur te bring.

Eriksen het in die 43ste minuut van die wedstryd in Kopenhagen skielik ineengesak en bewegingloos bly lê terwyl paramedici KPR toegepas het. Hy het sowat 15 minute lank bly lê voordat hy van die veld afgedra en na ʼn hospitaal geneem is.

Die wedstryd is tydelik opgeskort terwyl daar vir bevestiging gewag is oor Eriksen se toestand. Ná berigte dat hy stabiel en by sy bewussyn is, is die wedstryd later die aand hervat met ʼn 1-0 oorwinning vir Finland.

Denemarke is Donderdag met 2-1 deur België verslaan in ʼn wedstryd wat na tien minute onderbreek is vir ʼn applous ter ondersteuning van Eriksen.

Denemarke moet Maandag in sy laaste wedstryd met Rusland afreken om ʼn kans te staan om die laaste 16 te haal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Volgens my Europese nuusbronne het hy die hartprobleem ontwikkel na die Covid entstof toediening. Nogal ‘n algemene verskynsel daar.

Rudi ·

Reeds wyd gerapporteer dat Eriksen nie Covid gehad het nie en ook nie ingeënt was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.