Dele van Sahara in sneeukombers bedek

Sneeu lê op die duine (Foto: Hamouda Ben Jerad DZ photography)

Dele van die Sahara is vandeesweek vir die derde keer in bykans 40 jaar in ʼn sneeukombers bedek.

Sneeu het volgens berigte Sondagoggend vroeg reeds op die Algeriese woestyndorpie, Ain Sefra, begin val, maar is later dieselfde dag weer deur hoë temperature gesmelt.

Dit is maar die derde keer in byna vier dekades dat dié stad in die noorde van Algerië, wat bekend staan as “die poort na die woestyn”, sneeu beleef.

Sneeu op die duine het volgens die nuuswebwerf The Independent vroeër vandeesweek sowat 40 cm diep gelê.

Afgesien van min sneeu wat verlede jaar én in 2016 in Ain Sefra geval het, het die stad in 1979 laas sulke diep sneeu beleef – en destyds was dit ʼn sneeustorm wat die verkeer tot stilstand gebring en ʼn halfuur lank geduur het.

ʼn Woordvoerder van die Met Office, die VN se nasionale weerdiens, het aan die nuusdiens BBC Africa gesê sneeu in die Sahara is ongewoon maar nie ongehoord nie.

Hoewel die woestyn baie lae temperature bereik – in sommige dele tot -10 ºC – is daar baie selde genoeg vog in die lug om reën of sneeu te vorm.

Die Sahara is die derde grootste woestyn in die wêreld, maar staan bekend as die warmste woestyn ter wêreld.

Die foto’s is geneem deur Hamouda Ben Jerad DZ-fotografie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Carina ·

Sjoe maar dis pragtig!! Maar ons kon darem self gedoen het met soveel sneeu nou hier in die Kaap. Dit sou ons damme ‘n goeie hupstoot gee.

Hannelie ·

Dis so mooi met die rooi grond. Ja Carina ek stem, ons Wes-Kaap damme sal doen met sneeu en water.

Petro ·

Dit maak nie sin dat dit sneeu op warmste woestyn op aarde nie. Of is dit dalk geo-engenering en chemical ice nucleation? Kyk gerus na Geoengeneeringwatch.org ook op facebook.

Rupert Ashford ·

Gaan doen bietjie meer navorsing en jy sal sien wanneer dit in daardie deel van die wereld koud geraak het. Interessante tye wat voorle en ons is so onvoorbereid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.