Deli-eienaar antwoord honderde briewe aan Kersvader

Dit was bedoel om net ‘n gewone Kersversiering te wees, maar deesdae is dié posbus meer ‘n geheime portaal na die Noordpool. (Foto: KENS 5)

Gino’s Stop-n-Buy lyk dalk soos net nog ʼn gewone deli, maar dis veel meer: dis amper soos ʼn geheime poort na die Noordpool. En dit is net omdat Aleem Chaudhry, eienaar van dié eetplek in San Antonio in Texas, VSA, honderde kinders se briewe en lysies aan Kersvader lees en noukeurig beantwoord.

Chaudhry het verlede jaar ʼn Kersposbus aangeskaf. Vir die kinders van die omgewing was dit egter nie net ʼn gewone Kersversiering nie en kort voor lank het die een brief na die ander in Kersvader se posbus beland, berig KENS 5.

Chaudhry se vrou het hom aangeraai om die posbus na die winkel te bring en daarna was daar bykans geen keer meer aan die briewe nie.

In ʼn japtrap was Gino’s Deli ook “Gino se posdiens vir Kersvader”. Sowat 400 briewe het in die posbus beland en Chaudhry het aan ieder en elk teruggeskryf. Hy beoog om vanjaar weer presies dieselfde te doen.

“Verlede jaar het ons teen 15 Desember nagenoeg 60 briewe ontvang. Ons het nou reeds veel meer gekry,” het hy vertel.

Om dié belangrike briefskrywery aan Kersvader te vergemaklik, het Chaudhry sommer ook kryte uitgepak sodat kinders hulle lysies kan opstel en in die groot rooi posbus kan gooi. En daar was reeds heelparty interessante versoeke, sommige selfs van volwassenes.

“Een kind het gevra vir speelgoed vir sy hondjie genaamd Officer. Nog ʼn vrou het gevra vir finansiering vir ʼn rolprent wat sy wil vervaardig,” het Chaudhry gesê.

Sommige van die briefskrywers vra glad nie vir geskenke nie. Hulle het veel dieper goed om te vra. Een wou weet hoe takbokke dit regkry om te vlieg, terwyl ʼn ander wou weet waarom Kersvader deur die skoorsteen klouter en nie sommer net die voordeur gebruik nie.

As ouers sónder hul kinders by Gino’s aankom, kan hulle ʼn vorm invul en verseker dat die kleinspan steeds ʼn spesiale brief van Kersvader ontvang.

Dis nie maklik om Kersvader – of sy posman te wees nie – maar Chaudhry sê dit is beslis die moeite werd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wenner ·

Dis nou n pragtige idee. Dit gee nog so n bietjie van n sprokie-gevoel aan Kersfees❤️

VanAfrika ·

Dis nou cute. Dit leer sommer ons kinders wat n posbus is.

Erika ·

Hoe wonderlik is dit nou dit gee darm vir kinder weer om in iets te glo soos in n kersvader en vele meer

Jaco ·

Hier in Suid Afrika kry ons net load shedding van kersvader. Moet niks meer verwag nie. Net bad luck.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.