Demensie by oud-All Black (41) gediagnoseer

Argieffoto van die voormalige All Black-stut Carl Hayman. (Foto: NICOLAS TUCAT / AFP)

Die vroeë aanvang van demensie is by die voormalige All Black-stut Carl Hayman gediagnoseer.

Hayman (41) het nou by verskeie ander voormalige rugbyspelers aangesluit wat regsaksie teen beheerliggame vir rugby neem weens kopbeserings wat hulle tydens die spel opgedoen het.

Hayman, wat 45 keer vir die All Blacks uitgedraf het voor sy internasionale uittrede in 2007, het Woensdag gesê hy het eindelik besluit om mediese advies in te win nadat hy geheueverlies, verwarring en selfmoordgedagtes ervaar het.

“Ek het vir etlike jare gedink ek is besig om mal te word en in ʼn stadium het ek dit werklik geglo,” het hy aan die Nieu-Seelandse sportwebwerf The Bounce gesê.

Hayman het in dié stadium konstante hoofpyn gehad.

Mediese toetse het eindelik die vroeë aanvang van demensie getoon en dat Hayman waarskynlik aan chroniese traumatiese enkefalopatie, ʼn neurodegeneratiewe siekte, ly.

Dié diagnose het hom aangespoor om betrokke te raak by ʼn regsgeding wat deur spelers met soortgelyke diagnose, onder wie Steve Thompson van Engeland en Alix Popham van Wallis, aanhangig gemaak is.

Die spelers beskuldig Wêreldrugby en ander beheerliggame daarvan dat hulle nie genoegsame beskerming gebied het toe die risiko van harsingskudding en sub-harsingskudding “bekend en voorsienbaar” was nie.

Hayman sê hy het besluit om by die regsgeding betrokke te raak sodat hy fundamentele veranderinge aan die spel kan afdwing met die oog daarop om die risiko van kopbeserings te verminder.

“Ek hoop dat toekomstige spelers nie in dieselfde strik trap as wat ek gedoen het nie, dat hulle nie soos ʼn voorwerp behandel word nie en dat daar beter na hulle omgesien word.

“Jonger aspirantspelers moet weet waarin hulle hul begewe en daar behoort meer ondersteuning en beter monitering rondom kopbeserings en werkladings te wees,” meen Hayman.

Die All Blacks se hulpafrigter, John Plumtree, het intussen sy simpatie met Hayman betoon en gesê rugby se wette het verander om spelers se koppe te beskerm en te verseker dat minder harsingskudding opgedoen word.

“Ons het ʼn verantwoordelikheid om seker te maak die spel is veilig en dat ouers wil hê dat hul kinders moet speel,” het Plumtree aan verslaggewers gesê.

Mark Robinson, uitvoerende hoof van Nieu-Seeland Rugby, sê dié beheerliggaam is besig om toonaangewende beleid en navorsing oor harsingskudding te ontwikkel wat daarop gemik is om spelers op alle vlakke van die spel te beskerm.

“Die kwessie van die verband tussen harsingskudding en langtermyn kognitiewe kwessies is uiters kompleks en die wetenskap is besig om te ontwikkel.

“Nieu-Seeland Rugby sal voortgaan om spelers se welsyn voorop te stel en die spel veiliger vir almal te maak,” sê Robinson.

Wêreldrugby het intussen in ’n verklaring gesê hy is nie deur Hayman gekontak nie en kan nie in dié stadium kommentaar lewer oor die regsgeding nie. Ook dié beheerliggaam meen spelers se welsyn geniet topprioriteit.

“Ons is hartseer oor die weergawes van oudspelers en hul ervarings. Dit is nie maklik om so openhartig oor hul persoonlike omstandighede te praat nie en ons besef wat dit verg vir hulle om dit te doen.”

Maroela Media het vroeër vanjaar berig nuwe navorsing toon dat professionele rugbyspelers reeds ná een seisoen ʼn afname in die kognitiewe funksie van hul brein kan toon weens kopbeserings wat in die spel opgedoen word.

ʼn Verlies aan bloedvloei na die brein en ʼn afname in breinaktiwiteit is waargeneem by alle spelers wat aan die Universiteit van Suid-Wallis in Brittanje se navorsing deelgeneem het. Nie al hierdie spelers het harsingskudding opgedoen nie en daarom het die navorsing bevind dat nie net harsingskudding nie, maak ook herhaaldelike kontak wat deur die verloop van die spel opgedoen is, afname in die kognitiewe funksie van die brein by spelers tot gevolg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johanncb ·

Hulle wil regsaksie neem, maar dit was tog hulle keuse om aan die sport deel te neem!

Althes ·

Hulle het seker nie besef watter groot skade rugby aan hul gedoen het voordat dit te laat was.

Miskruier ·

As ma het ek jare gelede my al daaroor bekommer, toe sou skoolseuns al geweeg word sodat beide spanne min of meer dieselfde gewig sou wees. Het nooit gebeur nie.

Jeffrey ·

Jy kan val en jou arm breek…mense dagvaar deesdae vir alles en is baie sensitief. Mans was nog tough in die ou dae, weermag opleiding het ook baie daarmee te doen gehad, vandag se mans…wel, sal maar eerder stilbly.

E ·

Krieket, baseball en tennis is baie veiliger, en het baie persoonlike beskerming.

AW ·

Dan maar weg doen met Rugby !!

Teensy slim mense met n beter voorstel kan kom…..

Moedeloos ·

Gaan kyk maar op TV as die Dr probeer om die speler van die veld te kry. Daai speler wys altyd hy is Okay. So terwyl samewerking vanaf spelers nie inskop nie sal kopbeserings altyd deel wees van die game.

tweeling ·

Dit gaan nie help om wereld rugby aan te vat nie. Daar is nog geen wetenskaplike studie gedoen om te bewys dat rugby dit veroorsaak het nie. Ek is seker daarvan dit sal redelik maklik wees om dit te monitor in die geval van boksers omdat hulle meer geredelik houe teen die kop kry en by tye bewusteloos geslaan word. As jy wil monitor by die rugby speler moet jy presies weet wat is die rugby speler se doen en late na die wedstryd (vrye tyd) want hy kan ook sy kop stamp in ‘n val ongeluk wat ook aanleiding kan gee tot harsingskudding. Die spesifieke speler sal KMR moet kry na elke wedstryd om te sien of daar breinskade is al kan dit nie op die oog af getoets word nie. Die proses om dit te bepaal gaan ook lank wees. Pat Lambie kan ook moontlik dimentia ontwikkel later in sy lewe agv stampe, hy het egter las van hoofpyne wat hom laat stop speel het. Dit tipe spel wat rugby is laat ongeluk stampe en stote toe en party ouens sal anderkant uitkom en niks oorkom nie waar ander sleg geaffekteer

Chantel ·

“Elke sport het sy beserings”, lui die gesegde. Jy kies jou sport en niemand gaan vir my vertel, jy as speler is nie bewus van die komplikasies gepaardgaande daarmee nie. Snert man!
Sy redenasie maak nie vir my sin nie.

Martie Smartie ·

Doodgebore regsaksie. Elke aksie wat n speler op die veld neem, is vrywillig. Hy speel vrywillig. As hy in n losgemaal induik. is dit vrywillig. Kan nie sien hoe n beheerligaam aanspreeklik is nie. Rugby kopskerms bestaan al jare. Dalk kan mens ou wedstryde kyk hoeveel maal ht hierdie ouens dit gedra.

Janine ·

Tragies! So jonk! Ek is sommer in trane, en ek ondersteun GEEN rugbyspan.

Mallie ·

Johanncb, ek stem 100% met jou saam. Niemand het hulle gedwing om die keuse te maak nie.

Waarnemer ·

Tog interessant dat die rugby spelers van die vroee 50″s,60″s en 70″s nooit sulke probleme opgtel het nie.Kyk hoe oud het ons Springbokke van weleer geword en vooruit geboer….Mannetjies Roux,Frik du Preez,Jan Ellis, Dok Craven,Syd Nomis…ag soveel meer….is vandag se spelers maar net sag in die kop of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.