Denemarke, Viëtnam verbied nou ook vlugte van SA

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Denemarke het aangekondig dat hy geen vlugte van Suid-Afrika meer gaan toelaat nie weens die nuwe variant van die koronavirus wat verlede maand hiér geïdentifiseer is.

Dié reisverbod het vandag in werking getree en geld in dié stadium tot 17 Januarie.

Die enigste uitsondering op die verbod is kindersorg, familiebesoeke asook mense wat siek is of na aan die dood is. Persone met ʼn negatiewe Covid-19-toets van minder as 72 uur oud asook die vervoer van goedere word ook nog toegelaat, het die departement van justisie in Denemarke Dinsdagaand laat in ʼn verklaring gesê.

Dié aankondiging volg kort nadat Viëtnam besluit het om alle vlugte van lande met nuwe variante te staak. Dié land het Dinsdag bevestig dat vlugte van Suid-Afrika en Brittanje eerste geraak sal word. Die land se departemente van gesondheid en vervoer sal glo later besluit of vlugte van elders ook verbied moet word.

Viëtnam, met ʼn bevolking van 96 miljoen, het tot op hede slegs 1 504 bevestigde gevalle van die koronavirus en 35 verwante sterftes aangeteken nadat dié land se massa-kwarantyn, uitgebreide kontakopsporing en streng beheermaatreëls getref het.

Denemarke het reeds byna 173 000 gevalle onder sy 5,8 miljoen landsburgers aangemeld. Die land se dodetal staan op 1 420.

Denemarke het nog geen gevalle van die nuwe variant wat in Suid-Afrika opgemerk is aangeteken nie, maar wel byna 90 gevalle van die nuwe Britse variant.

’n Gedeeltelike inperking is middel-Desember in Denemarke ingestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.