Derde aardbewing vanjaar skud Botswana

Foto: USGS.

ʼn Derde aardbewing dié jaar het Botswana vandeesweek geskud, nadat daar in April twee was wat die buurland geskud het.

Volgens meetinstrumente was die aardbewings in April vanjaar een van die sterkste aardbewings ter wêreld vir 2017.

Volgens die United States Geological Survey (USGS) het die jongste aardbewing 137 kilometer suid-suid-wes van Letlhakane, noord van Gaborone, plaasgevind. Dit is in dieselfde omgewing as die aardbewing van M6,5 wat die land op 3 April getref het.

Dit het op dieselfde dag plaasgevind wat ’n aardbewing van M5,2 Stilfontein in Suid-Afrika getref het.

Twee dae later is Botswana opnuut deur ’n aardbewing van M5 geskud.

Die sterk aardbewing was die tweede sterkste in die land, ná ’n sterker aardbewing wat in 1952 voorgekom het.

Botswana se geowetenskap-owerheid het aanvanklike gerugte dat die groot aardbewing deur hidrobreking in die Kalahari Gemsbok Nasionale Park  veroorsaak is afgemaak en daarop gewys dat die episentrum te diep was – naamlik 29 kilometer. Die jongste aardbewing, sowel as die een wat kort ná die groot aardbewing voorgekom het, se episentrum was op ’n diepte van 10 kilometer.

’n Ander verklaring wat gegee word, is dat die aardbewings – duisende kilometer van die naaste verskuiwingsvlak – veroorsaak word deur die rek en strek van die Oos-Afrika-slenkdal. Die slenkdal self lewer die afgelope twee jaar heelwat aardbewings op, waarvan een in 2016 in Tanzanië 13 lewens geëis het.

Die jongste was in Mosambiek, op 24 Junie, en het M5.6 gemeet.

Intussen is die aarde vanjaar besonder stil wat sterk aardbewings betref. Die laaste aardbewing van M7 of meer het op 22 Januarie in Papoea-Nieu-Guinee voorgekom. Dit was die tweede sterk aardbewing van die jaar. Gewoonlik is daar sowat 18 sulke aardbewings per jaar. Ook wat ander sterktes betref, is daar ’n skerp afname in aardbewings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Botswana skei ·

Botswana wil maar net skei van RSAen ander afrika lande. Want dit raak nou hopeloos te benoud in die deel van die wêreld?

Michael ·

Ek dink dit sal goed wees as die weskaap n aardbewing ondervind wat hom heeltemal laat wegbreek van suid afrika dan kan ons mense weer n voorspoedige land he waarop ons trots kan wees

Patricia ·

Ons was op 3 April in die Sentraal Kalahari by Khutse Melose toe ons daardie aardbewing beleef het die aand. Was nogal scarry het gedog dis ‘n trop olifante wat op ons afstorm. Alles het geskud en gebewe. 2 dae daarna nog naskokke beleef.

Pieter ·

Probeer bietjie die app vir IOS vir díe wat belangstel in sulke dinge. Nogals interessant.
Earthquake monitor van David Cross.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.