Derde groep van SpaceX op pad na ruimtestasie

SpaceX het Vrydag sy derde groep ruimtevaarders na die Internasionale Ruimtestasie (ISS) gelanseer. (Foto: Gregg Newton / AFP)

SpaceX het Vrydag sy derde groep ruimtevaarders in ’n Crew Dragon-kapsule op ʼn Falcon 9-vuurpyl na die Internasionale Ruimtestasie (ISS) gelanseer.

Dit is die eerste keer dat dieselfde vuurpyl en ruimtetuig weer gebruik word om ruimtevaarders na die ruimte te lanseer.

Die lansering van die sogenaamde Crew-2-missie het omstreeks 05:49 plaaslike tyd vanaf die Kennedy Space Center in die Amerikaanse deelstaat Florida plaasgevind.

Die vier ruimtevaarders van drie verskillende lande, onder wie die eerste Europeër, sal na verwagting Saterdagoggend ná ’n rit van sowat 23 en ’n half uur lank by die ISS aankom.

Die Amerikaners Shane Kimbrough en Megan McArthur, Thomas Pesquet van Frankryk en Akihiko Hoshide van Japan sal dan sowat ses maande aan boord die ISS deurbring.

Daar sal met hul aankoms by die ISS ’n buitengewoon groot aantal mense (11) aan boord die stasie wees, aangesien Crew-2 se ruimtevaarders se tyd aan boord die ISS ’n paar dae oorvleuel met Crew-1 se ruimtevaarders voordat dié terug aarde toe keer.

Thomas Pesquet, Megan McArthur, Shane Kimbrough en Akihiko Hoshide voor die lansering. (Foto: Aubrey GEMIGNANI / NASA / AFP) 

Kimbrough, McArthur, Pesquet en Hoshide het vanoggend vroeg hul geliefdes vir oulaas gegroet voordat hulle in drie wit Teslas na die lanseerbaan vervoer is. Dit is ’n nuwe tradisie deur SpaceX wie se eienaar Elon Musk ook ’n verskyning tydens vanoggend se missie gemaak het.

Die motors se nommerplate het onderskeidelik “herwin”, “hergebruik” en “verminder” gelees. Dié nommerplate verwys na die feit dat die Falcon 9-vuurpyl en die Crew Dragon-kapsule albei reeds tydens ’n vorige missie gebruik is.

Die hergebruik van vuurpyle en ruimetuie is ’n belangrike kostebesparende doelwit van Nasa se vennootskappe met die private sektor.

Vanoggend se missie is die derde keer dat SpaceX mense na die ISS stuur as deel van ’n multimiljard-dollar-kontrak met Nasa.

Die eerste missie het in Mei verlede jaar plaasgevind toe Nasa se ruimtevaarders Bob Behnken en Doug Hurley geskiedenis gemaak het met hul vertrek na die ISS aan boord SpaceX.

Maroela Media het vroeër berig dít was die eerste keer in nege jaar dat ʼn ruimtetuig met Amerikaners van Amerikaanse grondgebied gelanseer is. SpaceX het ook toe die eerste private maatskappy geword om mense na die ruimte te neem.

“Wat die voorbereiding betref, is dit altyd makliker die derde keer,” het Daniel Forrestel, ’n Nasa-lanseerintegrasiebestuurder, aan AFP gesê.

“Ek sou nooit ruimtevaart as roetine wil beskryf nie, maar meer bekend is ’n goeie manier om dit te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Dink net as die ANC soe doeltreffend was soos Elon Musk? Ons kon Jacob Zuma sommer al Maandag maan toe stuur met ‘n eenrigting kaartjie.

Karina ·

Veilige reis na die ruimte en veilige terugkoms aan die ander span wat weer terug kom aarde toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.