Derde van renosters in Botswana gestroop

Argieffoto van renosters. (Foto: Karen Sandison/African News Agency/ANA)

Botswana het die afgelope vyf jaar ʼn hoogtepunt in renosterstroping bereik met sowat ʼn derde van sy renosterbevolking wat in hierdie tyd gestroop is.

Die land se minister van toerisme, Philda Kereng, het Maandag bekendgemaak dat altesaam 138 renosters tussen 2018 en verlede jaar gestroop is.

Dit in vergelyking met die twee renosters wat tussen 2012 en 2017 gestroop is.

Kereng het die jongste statistieke aan die parlement voorgelê en uiteengesit hoe stroping oor die afgelope vyf jaar geleidelik toegeneem en toe skielik weer afgeplat het.

Volgens Kereng is sewe renosters in 2018 gestroop, gevolg deur 30 in 2019. Die stropings het skielik in 2020 tot 62 verdubbel, waarna dit weer in 2021 halveer het tot 33. Slegs ses renosters is verlede jaar gestroop.

Sy het die vlaag van stropings toegeskryf aan “die verhoogde vraag na renosterhorings in die internasionale mark” asook “die verplasing van internasionale kriminele sindikate uit ander lande na Suider-Afrika”.

Botswana se buurman, Suid-Afrika, wat jare lank ʼn brandpunt vir renosterstroping was, het die afgelope paar jaar ʼn bestendige afname in gevalle gehad. Dit is grotendeels as gevolg van meer patrollies in nasionale parke wat stropers gedwing het om elders na renosterhorings te soek.

Botswana maak nie sy renosterbevolking aan die publiek bekend nie, maar volgens ʼn dokument wat die regering verlede jaar aan die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (CITES) in Panama voorgelê het, is daar na raming sowat 285 witrenosters en 23 swartrenosters reg oor die land.

Volgens ʼn ander regeringsdokument het Botswana die afgelope paar jaar begin om renosters te onthoring om hulle minder aanloklik vir stropers te maak. Dit het egter nie die gewenste uitwerking gehad nie, aangesien die stukkie horing wat oorgebly het steeds vir stropers waardevol was.

Die regering het intussen veldwagters, wetstoepassingsagentskappe en nie-regeringsorganisasie se patrollies op voetsoolvlak sowel as in die lug verskerp in ʼn poging om die oorblywende renosters te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Schalk ·

Ons almal weet wat moet eintlik met die Renosterstropers gebeur maar ongelukkig mag dit nie geplaas word nie.

Mariana ·

O die mense en hul bygelowe oor renosterhorings. Is daar enige mediese bewyse wat sê dat die horing doen wat hulle beweer? Die mens is nie net sy eie grootste vyand nie, maar ook die natuur sin.

Harley Davidson ·

Hoekom identifiseer mense nie die probleem soos dit is nie daar is geen internasionale mark vir renosters horings nie die Chinese is die sondebokke en hulle moet uitgewys word ,dan kan die probleem gehanteer word en die renosters stropery gestop word.

Charmain ·

Dis die gevolg van die ontbinding van die (effektiewe) Anti poaching unit wat Ian Khama op die been gebring het. Daardie ouens het eers geskiet en dan vrae gevra. Hoekom hulle moet krap waar dit nie jeuk nie gaan my verstand te bowe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.