Deurbraak in Madeleine McCann se verdwyning

Madeleine McCann soos sy gelyk het toe sy as driejarige dogtertjie vermis geraak het. (Foto: http://findmadeleine.com)

Die Britse en Duitse polisie het ʼn nuwe verdagte rakende Madeleine McCann, die driejarige Britse meisie wat in 2007 spoorloos verdwyn het terwyl haar gesin in Portugal vakansie gehou het.

Die owerhede het Woensdag bekend gemaak dat ʼn 43-jarige Duitse man nou van Madeleine se verdwyning verdink word. Dié man is voorheen skuldig bevind aan seksuele misdrywe teenoor kinders. Die owerhede het gesê dat hy tans ʼn langdurige tronkstraf in ʼn gevangenis in Duitsland vir ʼn “onverwante saak” uitdien.

Volgens die polisie het die betrokke man vanaf 1995 tot 2007 in die Algarve-streek in Portugal gewoon, waartydens hy ook in ʼn huis in Praia de Luz, die vakansieoord waarvandaan Madeleine destyds verdwyn het, gewoon het.

Die Britse polisie het nou ook besonderhede van twee motors waaraan die verdagte verbind word, bekend gemaak. Die eerste is ʼn vroeë 1980’s-model VW T3 Westfalia-kampeerwa van twee onderskeie kleure, ʼn wit bokant en ʼn geel onderkant, met ʼn Portugese registrasienommer.

Volgens die polisie het die verdagte vanaf April 2007 tot na Mei 2007 toegang tot dié voertuig gehad en is die motor destyds in en om die omgewing van Praia da Luz gebruik.

Die twee voertuie waaraan die verdagte verbind word, is ʼn 1993-model Britse Jaguar met ʼn Duitse registrasienommer. Hoewel die motor in Duitsland geregistreer is, word daar vermoed dat dit gedurende 2006 en 2007 in die omgewing van Praia da Luz en omliggende gebiede gebruik is.

“Die motor is oorspronklik in die verdagte se naam geregistreer. Die motor is egter op 4 Mei 2007, die dag ná Madeleine se verdwyning, in iemand anders se naam in Duitsland geregistreer,” het die polisie gesê.

Die owerhede doen nou ʼn beroep op lede van die publiek om met enige inligting rakende dié voertuie na vore te kom.

Madeleine se ouers, Kate en Gerry McCann. (Foto: Joe Giddens/Pool via AP)

Madeleine se ouers, Kate en Gerry, het intussen die polisie vir hul onverpoosde soektog na Madeleine bedank.

“Al wat ons nog ooit wou hê, is om haar te vind, die waarheid te onthul en diegene wat verantwoordelik is voor die gereg te bring. Ons sal nooit hoop opgee om Madeleine lewend te vind nie, maar wat die uitslag ook al is, ons moet weet sodat ons vrede kan vind.”

Maroela Media het vroeër berig Kate en Gerry het die aand van 3 Mei 2007 vir Madeleine en haar jonger broer en suster, ʼn tweeling, destyds twee jaar oud, in hul vakansiewoonstel gelos waar hulle geslaap het. Die ouerpaar het saam met vriende by ʼn restaurant sowat 55 m van die woonstel af gaan eet, maar kort-kort deur die loop van die aand om die beurt na die woonstel teruggegaan om te kyk of die kinders veilig is. Omstreeks 22:00 het Kate weer gaan kyk en toe ontdek dat Madeleine uit haar bed verdwyn het.

Sy is nooit weer gesien nie.

Die McCann‑gesin het sedert Madeleine se verdwyning nog nooit opgehou om na haar te soek nie. Owerhede kon geen aanduiding vind dat Madeleine nog lewe of dat sy dood is nie, en die ondersoek na die saak het reeds miljoene ponde beloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaco ·

Dit kom nou van die wonderlike europese unie met sy oop grense waar selfs hulle misdadigers ongehinderd, sonder paspoort, kan beweeg van land tot land.
Maar laat ek nou aansoek doen vir ‘n Schengen visum vir Europa, dan moet ek eerstens amper R3000 daarvoor betaal, en daarna word ek by die ambassade hier en by aankoms in Europa op die lughawe uitgevra van ‘n kant af. Al wat hulle daarna nie van my weet nie is my skoengrootte.

Raakvatter ·

Is so ja, en die fotos en biometriese inligting wat hulle ook nog vat.

Sarel ·

Hierdie ouers is deur hel gwgaan wn vertrou dit is die regte man sodat antwoorde gekry jan word. Indisn dk rsg onthou was doe ouers deur die Polisiexen gemaanskap beskuldig.

summie ·

Hierdie saak het my destyds geweldig aangegryp, en ek het toe gebid dat hulle haar sou kry. Ek hoop van harte dat sy nog leef en dat die skuldiges gevind en gestraf sal word !!

SWAREB1962 ·

Jammer maar hul moes die Ouers destyds vervolg het oor kleuters van 2 & 3 Jaar alleen gelaat was. Hy het die familie seker geruime tyd dopgehou & geweet van die dogtertjie.
Sy is so n mooi kind daai tyd, ek al baie gewonder of sy ooit gekry is.

Annelien ·

Hulle kind is weg, ek dink dis straf genoeg vir hulle. Ek hoop sy lewe.

SomeOne ·

nog steeds sterkte ouerpaar
op hierdie stadium is dit net spekulasie, redelik maklik om te se dat die misdadiger in die omtrek was, maar nogsteeds geen konkrete bewyse nie

Cherokee ·

Is dìt die enigste foto van die pragtige meisiekind? Die een waarvan haar oë waarskynlik met photoshop vergroot is? Dink ek het nog geen ander foto van haar gesien as diè een wat wêreldwyd versprei word. Ek hoop sy word gevind meer as ‘n dekade ouer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.