Diamant vir R210 000 verkoop wat tiener in park optel

Tana Clymer met haar vonds Foto: Crater of Diamonds State Park

Tana Clymer met haar vonds Foto: Crater of Diamonds State Park

ʼn Tiener van Oklahoma City in Amerika het ʼn diamant, wat sy in ʼn park opgetel het, vir $20 000 (byna R210 000) verkoop.

Tana Clymer het aan KWTV gesê sy beplan om die geld vir haar tersiêre opleiding te gebruik. Sy het die 3.85 karaat-diamant op 19 Oktober 2013 opgetel toe sy saam met haar familie edelgesteentes gaan soek het by die Crater of Diamonds State Park in Murfreesboro, Arkansas. “Ek het gedink dis ‘n stukkie papier of ‘n lekkergoedpapiertjie,” het Clymer gesê. “Toe ek dit optel, het ek gedink dit is ‘n albaster.”

Clymer sê sy voel God het vir haar die diamant gewys. Sy het die diamant “God se juweel” genoem.

Dié park is die enigste diamantvervaardigingsterrein in Amerika wat vir die publiek oopgestel word. Daar word daagliks minstens twee diamante by die park opgetel. Watter edelgesteentes die publiek ook al in die park optel, behoort aan hulle.

Die geel diamant is traanvormig en ongeveer so groot soos ʼn jellieboontjie-lekker.

Bron: KWTV, Crater of Diamonds

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.