Diana-onderhoud op ‘bedrieglike’ wyse bekom; Britse prinse reageer

Prinses Diana verlaat op 14 November 1992 ‘n boekwinkel in Parys, Frankryk. (Foto: Vincent Amalvy/AFP)

Die Britse prinse William en Harry het Donderdag na die BBC en joernalis Martin Bashir gekap oor die “bedrieglike wyse” waarop hy sy plofbare televisieonderhoud in 1995 met prinses Diana, hulle ontslape ma, bekom het.

In dié onderhoud deel sy onder meer besonderhede oor haar wankelrige huwelik met prins Charles en erken dat sy owerspel gepleeg het.

Die prinse se kwetsende kritiek het gevolg slegs ure nadat ʼn onafhanklike ondersoek bevind het Bashir het valse dokumente gebruik om sy opspraakwekkende onderhoud met prinses Diana te bewerkstellig, en dat hooggeplaastes by die BBC versuim het om behoorlik ondersoek te doen in hoe hy daarin geslaag het.

William het gesê die wyse waarop die onderhoud verkry is, het “ʼn wesenlike invloed gehad” op dit wat sy ma regstreeks gesê het, en het ʼn “massiewe aandeel gehad” in die ondergang van sy ouers se verhouding.

Hy het ook gesê die BBC se pligsversuim het “aansienlik bygedra tot haar vrese, paranoia en isolasie” in haar laaste jare.

Diana en prins Charles, die troonopvolger, is in 1996 amptelik geskei. Sy is in 1997 op die ouderdom van 36 in ʼn hoëspoed-motorongeluk dood terwyl paparazzi-fotograwe haar in Parys agternagesit het.

Prins William. (Foto: Jonathan Brady, AP)

“Ek is oortuig dat dié Panorama-program geen legitimiteit dra nie en dit behoort nooit weer uitgesaai te word nie,” het William, tweede in die opvolgerslys vir die troon, in ʼn lang verklaring gesê wat hy vanuit die Kensington-paleis voorgelees het.

“Dit het ʼn valse narratief geskep wat langer as ʼn kwarteeu deur die BBC en ander uitgebuit is. Dié weergawe moet nou aangeraak word.”

In sy eie verklaring het William se jonger broer, Harry, gesê die ondersoekverslag was “die eerste stap na geregtigheid en die waarheid”, maar dat bedrieglike praktyke vandag steeds voortduur en dat dit ʼn rol in sy ma se dood gespeel het.

“Die rimpeleffek van ʼn kultuur van uitbuiting en onetiese praktyke het uiteindelik haar lewe gekos,” het hy gesê.

Harry se kommentaar beaam dié van Diana se broer, Charles Spencer, wat vroeër die skuld vir haar dood twee jaar later op die nadraai van die onderhoud gepak het.

“Sy het nie geweet wie om te vertrou nie en op die ou end, toe sy twee jaar later dood is, was sy sonder enige vorm van ware beskerming,” het Spencer gesê.

Verslag

Prinses Diana. (Foto: royalpedia.fandom.com)

Volgens die afgetrede hoofregter John Dyson se verslag het Bashir vervalste bankstate gebruik wat verkeerdelik daarop gedui het dat sekerheidsmaatskappye sommige van Diana se naaste assistente betaal het om haar dop te hou.

Bashir het dit aan Spencer voorgelê in ʼn suksesvolle poging om hom te oortuig om ʼn ontmoeting tussen homself en Diana te reël om sodoende haar vertroue te wen en ʼn onderhoud te belê.

Vrae oor hoe Bashir vir Diana oortuig het om op die BBC se Panorama-program te verskyn word lankal reeds geopper. ʼn Rekordgetal van 22,8 miljoen mense het na die onderhoud gekyk en dit het ʼn string televisietoekennings ingeoes.

In die onderhoud het Diana gesê “daar is drie mense in my huwelik” – sy, Charles en sy minnares en nou vrou, Camilla Parker-Bowles.

Bashir, nou 58, was destyds nie welbekend nie, maar het ʼn hoëprofiel-loopbaan op Amerikaanse televisienetwerke gehad en onderhoude met sterre soos Michael Jackson gevoer.

Hy het verlede week uit sy werk as religieuse redakteur by die BBC bedank weens swak gesondheid, slegs ure voordat Dyson se verslag aan BBC-base voorgelê is.

ʼn Interne ondersoek wat in 1996 deur die toekomstige BBC-hoof Tony Hall en nog ʼn senior figuur, Anne Sloman, van stapel stuur is, het Bashir van enige oortredings kwytgeskeld.

Volgens Dyson was dié ondersoek “gebrekkig en jammerlik ondoeltreffend” en het dit onder meer versuim om Spencer te vra vir sy weergawe van die gebeurtenisse.

“Sou hulle Bashir se weergawe getoets het, sou hulle hom kwalik kon glo en tot die gevolgtrekking kom dat hy ʼn ‘eerlike en opregte man’ is.”

Hall, nou hoof van die raad van trustees by die National Gallery in Brittanje, het erken die ondersoek “het nie aan die vereistes voldoen nie” en gesê dit was “verkeerd om vir Martin Bashir die voordeel van die twyfel te gee”.

Kultuursekretaris Oliver Dowden het gesê die regering sal Dyson se bevindings bespreek en oorweeg of daar “verdere regeringshervormings” benodig word in die BBC, en bygevoeg dat “dit nooit weer mag gebeur nie”.

Prins Harry (Foto: Instagram via @sussexroyal)

Tim Davie, hoofdirekteur by die BBC, sê die korporasie aanvaar die verslag onomwonde en het ʼn “volle en onvoorwaardelike verskoning” aangebied, en bygevoeg dat daar nou beter prosedures ingestel is.

“Die BBC moes destyds ʼn groter poging aangewend het om agter die kap van die byl te kom en moes meer deursigtig gewees het oor wat hy reeds weet,” het hy gesê.

Die uitsaaier het gesê die toekennings wat deur die onderhoud ingeoes is, gaan teruggegee word.

Bashir het ook intussen om verskoning gevra en gesê om die bankstate te vervals was “’n dom ding om te doen en iets wat ek diep berou”.

Hy het egter volgehou dat dit “niks te doen gehad het met Diana se persoonlike keuse om deel te wees” [van die onderhoud] nie, en dat hy steeds “ongelooflik trots” op die onderhoud is.

Davie het ook gesê die prinses was destyds “gretig oor die idee van ʼn onderhoud met die BBC”. Haar vervreemde man het met die kommersiële kanaal ITV in 1994 gesels en het ook erken dat hy owerspel gepleeg het.

John Birt, hoofdirekteur van die BBC in 1995, het in ʼn verklaring gesê: “Ons weet nou dat die BBC ʼn skelm verslaggewer gekoester het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Snowball ·

Vir wie ookal sy wat ookal was, prinses, mode-ikoon, ma, suster of koninklike, dit is nou tyd dat sy en haar lewe met foute en flops en al met rus gelaat word. Soms lyk dit of die ander in die ‘dysfunctional ‘ familie ook net relevant kan bly as hulle haar by elke nuwe skoondogter, kleinkind, of treurige melodrama kan bysleep. Ou Charles lyk my is ook al een wat so runnik-runnik aanbeweeg het.

Sêmanet ·

Die vrou pla nou niemand nie, hoekom karring hulle nog aan met stokou koeie. Of sy nou ontrou was, en of sy ‘n non was, niemand is volmaak nie. Ou Charlie het ook mos nou sy ou (letterlik en figuurlik) skelmpie gekry. Hy is seker al spyt, want ek dink Di sou ‘n statige pragtige ouer vrou uitgemaak het, sou sy nog gelewe het. Ek sal altyd mal bly oor haar, ongeag wat gebeur het. Mense behoort ander mense se privaatlewens los. Haar seuns behoort hulle ook nie eens te steur aan al hierdie bespiegeling oor hul ma nie. Hulle hoef mos net te onthou wat sy vir hulle was en beteken het.

Sarel ·

Wel dink maar hoe Britse Joernaliste destyds oor SA gelieg het.
Pers sal.nie maklik Diana laat rus nie want hulle mask nog geld daaruit. Hoe sappiger due storie hoe meer grld kry hulle. Tyd dat sy rus .

MakersMark ·

Die twee seuntjies moet eerder vir hul iets ordentliks kry om te doen ipv rondhang en nou en dan kommentaar lewer op gebeure wat lankal gedane sake is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.